Nuus 15:00
BULLETIN 17 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA lewer ‘n striemende oorsig na ‘n jaar van die regering van nasionale eenheid
# Die DA vra ‘n ondersoek na die busongeluk in KwaZulu-Natal wat 12 lewens eis
# En Wits keur 22-miljoen-rand goed vir navorsers en studente wat deur Amerikaanse besnoeiings geraak word
# ActionSA sê die regering van nasionale eenheid kon in die jaar sedert sy totstandkoming nie daarin slaag om sy beloftes na te kom nie. Michael Beaumont van ActionSA sê die regering kort ‘n duidelike agenda of hervormings. Hy noem dit ‘n Instagram-administrasie wat meer fokus op openbare betrekkinge as om werkloosheid, swak dienste en korrupsie reg te stel. Beaumont waarsku die RNE funksioneer as ‘n verlengstuk van die ANC, sonder enige tasbare verandering of sigbare vordering:
# Die DA in KwaZulu-Natal versoek die Departement van Vervoer om ‘n volledige en deursigtige ondersoek te doen na die oorsaak van vanoggend se busongeluk op die R34 in Vryheid. Die party sê die ongeluk het die lewens van 12 mense geëis en meer as 20 is beseer. Riona Gokool van die DA sê hierdie tragedie beklemtoon weereens die dringende behoefte aan verbeterde padveiligheidsmaatreëls en die strenger afdwinging van verkeersregulasies:
# Die Wits-universiteit het 22-miljoen-rand se noodbefondsing beskikbaar gestel om nagraadse studente en belangrike navorsingspersoneel in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe te ondersteun. Dit volg nadat die Amerikaanse regering onverwags internasionale navorsingsbefondsing vir die mediese veld gestaak het. Wits sê hierdie fondse sal sowat 75 nagraadse studente in staat stel om hul graad te voltooi, en ongeveer ses maande se oorbruggingsfondse beskikbaar stel vir navorsingspersoneel.
# China beskuldig president Donald Trump dat hy die vlamme aanblaas in die toenemende konflik tussen Iran en Israel nadat die Amerikaanse staatshoof inwoners van Teheran aangemoedig het om dadelik te ontruim. Die skielike opvlam van vyandelikhede het vrese vir ‘n wyer konflik laat ontstaan, met Trump wat Iran aanmoedig om terug te keer na die onderhandelingstafel nadat Israelse aanvalle onderhandelinge tot stilstand gebring het. Die woordvoerder van China se ministerie van Buitelandse Sake, Guo Jiakun, sê dreigemente en verhoogde druk sal die konflik vererger en uitbrei.
# Sokker: Mamelodi Sundowns se afrigter, Miguel Cardoso, glo die Klub-Wêreldbekertoernooi in Amerika is die ideale vlak om hulself te toets. Sundowns is in Groep F saam met Ulsan HD van Suid-Korea, die agtmalige Bundesliga-kampioen, Borussia Dortmund, en Fluminense van Brasilië. Hulle skop hul veldtog môre teen Ulsan af. Cardoso sê om verder as die groepfase te vorder, sal ‘n ongelooflike prestasie wees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-82-sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 24-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-624-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-394-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 73-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….