Nuus 15:00
BULLETIN 13 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Sassa voorsien Oos-Kaapse vloedslagoffers van komberse en noodsaaklikhede
# EU versoek alle partye om hulle te weerhou van vergelding nadat Israel vir Iran aanval
# En rugby: Die Eerste Afdeling van die Curriebeker skop môre af
# Die maatskaplike sekerheidsagentskap Sassa gaan Oos-Kaapse gesinne wat in die dodelike vloede geraak is ondersteun met kos, kontantbewyse, komberse en ander noodsaaklikhede. Die uitvoerende hoof, Themba Matlou, het die agentskap se ingryping deur sy maatskaplike verligting van noodtoelaag bevestig. Vloede in die OR Tambo- en die Amathole-distrik het 78 lewens geëis en honderde mense is ontwortel. Matlou sê spanne is besig om op drie persele maaltye te bedien en volwasse- en babapakkies te versprei. Sassa beplan ook om basiese behoeftepakkette te verskaf, wat matrasse en skooluniforms insluit.
# Steeds in die Oos-Kaap: Die hoof van Bergview College, Jaco Pieterse, gaan klagtes van crimen injuria lê teen die leier van die EFF, Julius Malema, die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, en die LUR vir Onderwys, Fundile Gade, omdat hulle hom vals beskuldig het van die verkragting van ‘n leerder, Cwecwe. Pieterse sê die vals aantygings het dreigemente en persoonlike skade veroorsaak. Barry Bateman van AfriForum sê die polisie het geen bewyse van verkragting gevind nie en hulle gaan strafregtelike aanklagte instel:
# AfriForum het ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting ‘n aansoek by die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, en die provinsiale Departement van Paaie en Vervoer ingedien om antwoorde te eis rondom die koste, tydsduur en doel van nuwe nommerplate vir die provinsie. Louis Boshoff van AfriForum waarsku die plan kan ‘n duur las word met min voordele. Hy bevraagteken die dringendheid daarvan en verwys na groter infrastruktuurmislukkings:
# Die Europese Unie se hoof van Buitelandse Beleid, Kaja Kallas, het beide kante versoek om selfbeheersing toe te pas nadat Israel Iran se kernprogram en militêre leierskap geteiken het. Kallas het in ‘n plasing op X die situasie in die Midde-Ooste as gevaarlik bestempel. EU-amptenare sê hy het vroegoggend met die Israelse minister van Buitelandse Sake, Gideon Saar, gepraat. Die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, vra ook kalmte. Sy het alle partye aangespoor om maksimum-selfbeheersing te beoefen en hulle van vergelding te weerhou.
# Rugby: Die Eerste Afdeling van Suid-Afrika se ikoniese Curriebeker-kompetisie begin môre wanneer Oostelike Provinsie die SWD Arende in Gqeberha verwelkom, en die Griffons in Welkom teen die Valke speel. Die derde wedstryd is tussen die Luiperds en die Grens Bulhonde in Potchefstroom. Die ses spanne speel ‘n enkele ronde, waarna die halfeindstryde op die 19de Julie gespeel word en die eindstryd ‘n week later. ‘n Nuwe kampioen sal gekroon word nadat verlede jaar se wenner, Boland Kavaliers, na die Premierafdeling bevorder is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-98-sent teen die dollar, 20-rand-67-sent teen die euro en 24-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-861-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-419-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 73-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….