Nuus 15:00
BULLETIN 9 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# KwaZulu-Natal is op hoë gereedheidsgrondslag vir wind en donderstorms
# Die polisie ondersoek die omstandighede rondom die verdwyning van ‘n Comrades-atleet
# En die onluste oor immigrasie-klopjagte brei uit na San Francisco
# Inwoners van KwaZulu-Natal is versoek om waaksaam te bly met skadelike wind, erge storms en sneeu wat die provinsie tref. ‘n Vlak vier-waarskuwing is uitgereik vir skadelike wind en golwe langs die kuslyn en ‘n vlak twee-waarskuwing is uitgereik vir erge donderstorms in die binneland. Die provinsiale rampbestuursentrum is op ‘n hoë gereedheidsgrondslag. Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake se woordvoerder, Senzelwe Mzila, sê sneeu en ys op paaie is reeds aangemeld rondom Kokstad:
# Steeds in KwaZulu-Natal: Die polisie stel tans ondersoek in na die omstandighede rondom die verdwyning van ‘n Comrades-atleet wat ná die wedloop as vermis aangemeld is. Moira Harding van Kaapstad het die 98ste Comrades-marathon voltooi, maar toe verdwyn. ‘n Polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda, sê sy is vanoggend gevind na afloop van ‘n intensiewe soektog deur die polisie se Soek-en-reddingsbeamptes, in samewerking met ander wetstoepassers en privaat organisasies:
# Die regering het begin met ‘n interaktiewe landwye toer vir sy Spazawinkel-ondersteuningsfonds van 500-miljoen-rand. Die direkteur van Johannesburg Ekonomiese Ontwikkeling, Benji Seitlhamo, sê ses-miljoen-rand is reeds aan deelnemende spazawinkels in die land uitbetaal. Hy sê die inligtingsvergaderings is daarop gemik om winkeleienaars leiding te gee oor toegang tot toelaes en lae-rente lenings om hul ondernemings te formaliseer en toe te laat om te groei:
# Nou nuus uit Amerika: Sowat 60 mense is in San Francisco in hegtenis geneem nadat betogers in die stad vergader het om teen president Donald Trump se immigrasieklopjagte te betoog. Volgens die polisie in die stad in die noorde van Kalifornië is die betogers in hegtenis geneem omdat dit ‘n onwettige byeenkoms was. Die versetoptrede volg op betogings oor immigrasieklopjagte in die middestad van Los Angeles. Volgens die owerhede is onwettige migrante en bendelede aangekeer.
# Tennis: Die boonste gedeelte van die manswêreldranglys het heelwat verander na die Franse Ope. Kampioen Carlos Alcaraz van Spanje bly tweede na sy oorwinning oor nommer-een, Jannik Sinner van Italië, en die Duitser Alexander Zverev bly derde. Jack Draper van Brittanje het verbeter na vierde, gevolg deur Novak Djokovic van Serwië en die Italianer Lorenzo Musetti. Die Amerikaner Taylor Fritz het drie plekke teruggesak na sewende, maar sy landgenoot Tommy Paul het vier verbeter na agtste. Holger Rune van Denemarke en Australiër Alex de Minaur voltooi die top-tien.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-22-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-550-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-318-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….