Nuus 15:00
BULLETIN 6 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kaapstad op ‘n hoë gereedheidsgrondslag te midde van weerwaarskuwings
# Die VF Plus in Gauteng se regering moet meer doen om bye te beskerm
# En, ‘n sonkragmaatskappy sê politieke teenstrydighede hou SA se sonkrag-potensiaal terug
# Kaapstad se Ramprisikobestuursentrum het stadsdepartemente op ‘n hoë gereedheidsgrondslag geplaas nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarskuwings vir slegte weer uitgereik het. Geel vlak 2-waarskuwings vir ontwrigtende reën en skadelike golwe word van môre tot Maandag voorspel, met skadelike wind wat van vanaand af verwag word. Sonica Lategan van die sentrum vra inwoners om voorsorg te tref deur geute skoon te maak, afleislote rondom die huis te grawe en seker te maak huise is waterdig:
# Die Vryheidsfront Plus sê hy gaan met die LUR vir Landbou, Vuyiswa Ramakgopa, en betrokke departementele amptenare skakel om seker te maak omvattende maatreëls word ingestel om bye te beskerm. Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse Byeboere Organisasie beklemtoon het omvattende stappe moet gedoen word om bye te beskerm. Jaco Mulder van die VF Plus sê die kweek van sowat een-derde van alle kos wat wêreldwyd verbruik word, vertrou regstreeks op bestuiwing deur bye:
# Die sonkragmaatskappy GoSolr sê waar ander lande hul oorgang na sonkrag versnel, word Suid-Afrika teruggehou met ‘n warboel regulasies wat aanvaarding van sonkrag verhinder eerder as aanmoedig. Die hoeveelheid energie van sonkrag maak nou 11,5-persent van die land se energiemengsel uit en steek die 6,6-persent wat kernkrag bydra, verby. In sy jongste Light Paper stel GoSolr verskeie stappe tot suksesvolle hernubare energie voor. Dit sluit in ‘n nasionale netwerk vir sonkrag en die hersien van invoerbelasting op sonkragtoerusting.
# Tsjad in sentraal-Afrika, sê hy het alle visums aan Amerikaanse burgers opskort uit vergelding vir ‘n reisverbod, nadat hy verneem het hy is een van die lande wat toegang na die VSA geweier is. President Mahamat Idriss Délby sê Tsjad het geen vliegtuie om aan te bied of miljarde dollar om te gee nie, maar Tsjad behou sy waardigheid en trots. Afrika word die ergste geraak deur die reisverbod wat die Amerikaanse president Donald Trump aangekondig het, met sewe van die 12 lande wat geraak is.
# Tennis: Suid-Afrika se rolstoeltennisspeler wat in die kwad-afdeling meeding, Donald Ramphadi en sy dubbelsmaat Ahmet Kaplan van Turkye het die eindstryd van die Franse Ope met 6-3, 6-4 teen die nommer een-gekeurdes, Guy Sasson van Israel en Niels Vink van Nederland, verloor. Ramphadi en sy maat Andy Lapthorne het die 2023 Franse Ope-rolstoeldubbelspelkampioenskap in die kwad-afdeling gewen. Suid-Afrika se Kgothatso Montjane het ‘n besige dag wat voorlê wanneer sy in die vroue rolstoel-enkelspel-halfeindronde speel en ook in die eindstryd van die vroue rolstoeldubbelspel in aksie is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-28-sent teen die euro en 24-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-795-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-362-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….