Nuus 15:00
BULLETIN 5 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Meer as twee-duisend-300 ontvoeringsake is tussen Januarie en Maart vanjaar in Gauteng aangeteken
# Die bekende fotograaf Rashid Lombard word in Kaapstad ter ruste gelê
# En, Friedrich Merz en Donald Trump vergader vandag met Rusland op die agenda
# Die Gautengse provinsiale Polisiekommissaris, Tommy Mthombeni, sê altesaam twee-duisend-341 ontvoeringsake is tussen Januarie en Maart vanjaar aangegee, ‘n toename van 15,8-persent. Mthombeni sê danksy die nasionale polisie-anti-ontvoeringseenheid, het die provinsie 88 verdagtes wat met 62 ontvoeringsake verbind word in hegtenis geneem, en in dieselfde tydperk 77 ontvoering-slagoffers gered:
# Die bekende fotograaf, kulturele aktivis en jazz-promotor Rashid Lombard word vandag in Kaapstad begrawe. Lombard is gister in die ouderdom van 74 dood. Hy word gevier vir sy bydrae tot Suid-Afrikaanse jazz en omdat hy sleutel-oomblikke in die land se geskiedenis gedokumenteer het. Lombard het deurslaggewende oomblikke in die land se stryd om vryheid opgeteken, insluitend wyle voormalige president Nelson Mandela se vrylating in 1990. Lombard het in 2014 die Nasionale Orde van Ikhamanga in Silwer ontvang. Hy word as ‘n kulturele ikoon erken.
# Die omgewingsgroep, die Green Connection, het hulle opnuut daartoe verbind om maatskappye wat die omgewing besoedel, veral in die mynbousektor, verantwoordelik te hou. Ter viering van Wêreldomgewingsdag sê die organisasie Suid-Afrikaners het die reg op ‘n skoon en gesonde omgewing. Lisa Makaula, van die groep doen ‘n beroep op die regering om in hernubare energie te belê, om kusgebiede te beskerm en te verseker dat gemeenskappe by omgewingsbesluite ingesluit word:
# Tennis: Die sprokiesverhaal duur vandag voort vir die 22-jarige Franse speler, Lois Boisson, nommer 361 op die wêreldranglys en ongekeurd vir die Franse Ope, nadat sy gister die sesde gekeurde Mirra Andreeva geklop het. Vandag kom sy in die eerste halfeindronde voor ‘n tuisskare te staan teen die tweede gekeurde Coco Gauff. In die ander halfeindronde pak die topgekeurde Aryna Sabalenka die vyfde gekeurde Iga Swiatek van Pole. Swiatek spog met agt oorwinnings teenoor Sabalenka se vier, en het vyf keer op klei gewen teenoor haar opponent se een keer. Dit is hulle eerste ontmoeting by Roland Garros. Swiatek het in 26 agtereenvolgende wedstryde nog glad nie by die Franse Ope verloor nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-74-sent teen die dollar, 20-rand-25-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-870-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-394-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-84-sent per vat.
# Die Duitse kanselier, Friedrich Merz, vergader vandag met die Amerikaanse president, Donald Trump. Dit word gesien as ‘n poging om persoonlike bande te bou ten spyte van hul verskille rondom Oekraïne en ‘n dreigende handelsoorlog. Merz is nou ‘n maand in sy amp, en hoop sy beloftes om Duitsland se besteding op NAVO-verdediging te verhoog, sal Trump tevrede stel, en dat die twee leiers kan ooreenkom hoe om Rusland te konfronteer. Die onvoorspelbare Amerikaanse president het sy toenemende frustrasie uitgespreek oor Vladimir Putin.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….