Nuus 15:00
BULLETIN 4 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die uitvoerende hoof van AgriSA sê Suid-Afrika benodig ‘n voedselsekerheidsindeks
# GIWUSA sê 0,1% groei in die bruto binnelandse produk bevestig stagnasie van kapitalisme
# En krieket: Mitchell Marsh voer Australië aan in T20-reeks teen Wes-Indiese Eilande
# Die uitvoerende hoof van AgriSA, Johann Kotze, sê Suid-Afrika benodig ‘n voedselsekerheidsindeks wat die werklik situasie intyds aandui. Volgens die 1996 Wêreldvoedselberaad word voedselsekerheid gedefinieer as ‘n toestand wat bestaan wanneer alle mense te alle tye fisiese en ekonomiese toegang tot voldoende, veilige, voedsame voedsel het om aan hul dieetbehoeftes en voedselvoorkeure vir ‘n aktiewe lewe te voldoen. Kotze sê die indeks sal die land help om voedselsekerheid vir die toekoms te verstaan:
Nog nuus oor voedselonsekerheid is dat die Suid-Afrikaanse Instituut vir Maatskaplik-Ekonomiese Regte ‘n verslag getiteld Food for Thought bekend gestel het. Die verslag probeer om te agter te kom hoe sommige van die instituut se vennote en kliëntgroepe geraak is deur, en hoe hulle reageer, op voedselonsekerheid en hongersnoodkwessies. Die instituut sê 23,1-persent van huishoudings in Suid-Afrika beskou hul toegang tot voedsel as onvoldoende of ernstig onvoldoende. Die instituut sê die verslag illustreer dat baie arm en lae-inkomste huishoudings regoor die land daagliks met voedselonsekerheid en honger sukkel.
# Die nywerheidswerkersvakbond Giwusa sê groei van 0,1-persent in die bruto binnelandse produk bevestig dat Suid-Afrika vasgevang is in ‘n diep, strukturele krisis van kapitalisme, gekenmerk deur stagnasie, de-industrialisering en neokoloniale plundering. GIWUSA se president, Mametlwe Sebei, sê die land word gekonfronteer met ‘n algehele krisis, waar die fundamentele teenstrydighede van monopolie-kapitaal, imperialistiese oorheersing en neo-liberale bestedingsinkortings alle moontlikhede van ‘n hervormde kapitalistiese oplossing uitgeput het:
# Volkswagen, Europa se grootste motorvervaardiger, oorweeg dit om ‘n monteeraanleg in Egipte te vestig. Die besturende direkteur vir die VW-groep in Afrika, Martina Biene, het aan Engineering News gesê dit is deel van ‘n plan om nuwe Afrika-markte te ontgin terwyl die aanvraag in Europa afneem. Volkswagen kan wel ‘n monteeraanleg vestig deur bestaande fasiliteite te gebruik. Biene sê ‘n moontlike volgende stap sou wees om ‘n plaaslike fabriek te bou in Egipte, die Midde-Ooste se digsbevolkte land. VW sny produksiekapasiteit en werksgeleenthede in Duitsland weens stygende koste en toenemende mededinging deur China.
# Krieket: Mitchell Marsh sal Australië aanvoer in ‘n reeks van vyf wedstryde in die Wes-Indiese Eilande nadat hy na die T20-groep teruggekeer het. Die kragtige kolwer, Mitchell Owen is vir die eerste keer ingesluit. Die snelbouler Josh Hazlewood is terug, nadat hy ‘n blaaskans gegun is vir Australië se laaste T20-reeks teen Pakistan in November, en die linkerhand-draaibouler Matthew Kuhnemann is vir die eerste keer in die groep. Australië se toets- en 50-boulbeurt-kaptein Pat Cummins asook Travis Head en Mitchell Starc is uit die 16-speler-groep weggelaat vir volgende maand se reeks.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-84-sent teen die dollar, 20-rand-31-sent teen die euro en 24-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-427-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-347-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….