Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Gift of the Givers versoek Afrika om Suid-Afrika by die Internasionale Geregshof te ondersteun
# Ramokgopa sê Eskom se stelsel is nie betroubaar nie
# En, sokker: Duitsland betreur die verlies van legendariese Franz Beckenbauer op 78
# Gift of the Givers se stigter, Imtiaz Sooliman, het ‘n beroep op die Afrika-unie en individuele nasies gedoen om Suid-Afrika te ondersteun terwyl hy sy volksmoordsaak teen Israel by die Internasionale Geregshof in Den Haag voorlê. Die humanitêre organisasie beklemtoon die belangrikheid van eenheid om teen volksmoord, etniese suiwering en verskeie vorme van onreg te staan. Sooliman het die behoefte aan ‘n gesamentlike reaksie op oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom beklemtoon.
# Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, sê Eskom se stelsel is nie betroubaar nie en dit lei tot verskillende fases beurtkrag. Hy het die media in Pretoria ingelig oor die instelling van die Energie-aksieplan. Ramokgopa sê Eskom se span het daarin geslaag om instandhouding by opwekkingseenhede te verhoog tydens die feestyd, toe die vraag na krag laer was:
# Die DA het aanklagte teen die minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande, ingedien by die Kaapstad Sentraal-polisiestasie. Die DA se nasionale woordvoerder vir Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, Karabo Khakhau, sê die party beskuldig Nzimande, NSFAS se raadsvoorsitter, Ernest Khosa, en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party van bedrog teen die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente. Die aanklagte spruit uit bewerings van omkopery en manipulerende optrede wat in uitgelekte oudio-opnames aan die lig gebring is. Khakhau sê die DA eis ‘n deeglike ondersoek na die saak:
# ‘n Kanadese toeris en sy twee kinders onderneem om nooit na Suid-Afrika terug te keer nie nadat hulle oor die naweek in ʼn traumatiese ervaring vier uur lank in Mpumalanga aangehou is. News24 berig hulle was saam met twee ander Kanadese en ʼn Suid-Afrikaanse burger in ‘n ontstellende beproewing in die middestad van Mbombela met valse polisiebeamptes. Hulle is met vuurwapens gedreig en gedwing om groot bedrae geld uit hulle bankrekenings te onttrek, maar die reaksie van die polisie was traag. Die voorval laat vrae ontstaan oor die uitwerking van toenemende misdaad op toerisme in die land en onderstreep die dringende behoefte aan verskerpte veiligheidsmaatreëls.
# Sokker: Die voormalige Duitse speler en bestuurder, Franz Beckenbauer, is oorlede op die ouderdom van 78. Hy was alombekend as ‘Der Kaiser’ en het ʼn onuitwisbare merk op die sport gelaat, met oorwinnings in die Wêreldbekertoernooi as kaptein in 1974 en as bestuurder in 1990. Sy legendariese status strek tot by Bayern München waar hy merkwaardige sukses behaal het, met drie agtereenvolgende oorwinnings in die Europese Beker en vier titels in die Bundesliga (Boendesliga). Die sokkergemeenskap sê hulle is diep bedroef oor die verlies van ʼn ikoniese figuur.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 20-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 46-duisend-605-dollar-22-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-34-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….