Nuus 15:00
BULLETIN 26 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Openbare druk neem toe op Kelly Smith om te sê waar Joslin is aan die vooraand van vonnisoplegging
# BOSA herhaal sy oproep om die seksuele oortredersregister oop te stel namate seksuele misdade toeneem
# En Iran weier om sy uraaan-verrykingsprogram te staak soos Amerika eis
# Nie-regeringsorganisasies en die publiek vra dat Kelly Smith moet sê waar haar dogter, Joslin, haar tans bevind, voor die vonnisopleggingsproses môre begin in die Wes-Kaapse Hooggeregshof wat in Saldanhabaai sit. Die driedaagse proses sluit in betoë en verswarings met die veroordeelde drietal – Smith, Jacquen Appollis en Steveno van Rhyn – wat op hulle lot wag. Hulle is skuldig bevind aan ontvoering en mensehandel. Joslin het op 19 Februarie verlede jaar verdwyn, maar daar is geen aanduiding van waar sy is nie. Inwoners eis die swaarste vonnis.
# Build One South Africa sê die skerp styging in seksuele misdade toon die dringende behoefte om die nasionale register vir seksoortreders openbaar te maak. Die polisie se jongste misdaadstatistieke toon dat meer as 13-duisend seksuele oortredings aangemeld is, terwyl kontakaanrandings met 21-persent gestyg het. BOSA wil hê die register moet gedigitaliseer en met skole en werkgewers gedeel word om kwesbares te beskerm. Woordvoerder Roger Solomons glo dat openbare toegang tot die register sal help om herhaalde oortredings te voorkom:
# Die DA sê sy Privaatlede-wetsontwerp om die problematiese en verstikkende Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onwettige Grondbesetting te wysig, word in die Parlement deurgevoer. Die wetsontwerp word nou deur die komitee vir Menslike Nedersettings oorweeg. Luyolo Mphithi van die DA sê die wet het ongekende probleme vir grondeienaars veroorsaak en onwettige grondbesetters beskerm wat te lank in kwade trou opgetree het:
# Iran weier om sy uraanverryking op te skort as deel van ‘n kernooreenkoms met Amerika. Dit was ‘n sleuteleis van Washington tydens vorige samesprekings tussen die twee lande. Die kwessie van verryking het die afgelope weke weer vorendag gekom, met Iran wat sy reg op uraan-verryking verdedig as deel van wat hy ‘n burgerlike kernprogram noem, terwyl Amerika eis dit moet beëindig word. Die onderhandelinge, wat verlede maand begin het, is die hoogste vlak van kontak tussen die twee lande sedert Amerika ‘n mylpaal-kernooreenkoms van 2015 beëindig het.
# Krieket: Die veelsydige Zimbabwiese speler Sikandar Raza is ‘n held in sy geboorteland, Pakistan, nadat hy Lahore Qalanders gehelp het om die Pakistanse Superliga te wen. Hy het net betyds geland, maar ‘n onoorwonne 22 lopies bygedra en Qalanders het Quetta Gladiators met ses paaltjies geklop. Raza se spanmaats het hom skouerhoog van die veld gedra. Hy het Engeland Saterdag verlaat nadat hy vir Zimbabwe gespeel het in die eenmalige toets. Hy het aandete geniet in Birmingham, ontbyt in Dubai, middagete in Abu Dhabi en aandete in Pakistan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-32-sent teen die euro en 24-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-708-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-331-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….