Nuus 15:00
BULLETIN 22 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# GOOD sê Ramaphosa het prysenswaardige volwassenheid getoon in Amerika
# Netanyahu beveel strenger sekerheid nadat twee ambassade-personeellede in Washington vermoor is
# En rugby: Damian Willemse gaan die Stormers se volgende twee wedstryde misloop na sy rooikaart
# Die GOOD-party sê president Cyril Ramaphosa het prysenswaardige volwassenheid en staatsmanskap getoon te midde van wat duidelik ‘n beplande vals nuus-hinderlaag was deur sy Amerikaanse ampsgenoot, Donald Trump, en sy span. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê dit het as ‘n roetine fotogeleentheid begin, maar vinnig in ‘n politieke toneelstuk ontaard:
# Adjunkpresident Paul Mashatile het Suid-Afrika se padkaart vir digitale transformasie uiteengesit. Hy het die Suid-Afrika-Frankryk Beleggingskonferensie in Parys toegespreek en die toenemende belangrikheid van digitale tegnologieë vir ekonomiese groei beklemtoon. Mashatile sê Suid-Afrika sal fokus op die ontwikkeling van sleutel digitale vaardighede soos kunsmatige intelligensie, datawetenskappe en kuberveiligheid:
# Water van die Lesotho-Hoogland-waterprojek vloei weer, ná maande van onderhoudswerk. Die hervullingsproses het hierdie week begin met die water wat gister die Klein Caledon-tonnel bereik het en teen vandag by die Asrivier-uitvloei in Clarens in die Vrystaat verwag word. Daar was vertragings aan Lesotho se kant van die tonnelstelsel, wat sedert 1 Oktober gesluit is, terwyl Suid-Afrika sy werk betyds voltooi het. Amptenare hou die watervloei noukeurig dop om gladde vloei te verseker.
# Eerste minister Benjamin Netanyahu het verhoogde sekerheidsmaatreëls ingestel by Israelse diplomatieke sendings wêreldwyd nadat ‘n gewapende man wat “free Palestine” geskree het, twee ambassadepersoneellede voor ‘n Joodse museum in Washington doodgeskiet het. Die minister van Buitelandse Sake, Gideon Saar, het die moorde toegeskryf aan ‘n vlaag anti-Semitiese en anti-Israelse aanhitsing en sê Europese regerings moet ook die skuld kry. Netanyahu het bevele uitgereik om sekerheidsmaatreëls by Israelse sendings wêreldwyd te verbeter en die beskerming van staatsverteenwoordigers te verhoog.
# Rugby: Die Springbok-agterspeler Damian Willemse sal die Stormers se volgende twee Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryde misloop na sy rooikaart teen Cardiff verlede week. Sy skorsing van ses wedstryde is gehalveer en hy sal ook ‘n afslag van een wedstryd ontvang as hy Wêreldrugby se afrigtings-ingrypingsprogram bywoon. Dit beteken Willemse sal nie beskikbaar wees vir die Stormers se kwarteindstryd teen Glasgow of ‘n moontlike halfeindstryd nie. Die span is glo ongelukkig omdat hy skuldig gepleit het en glo dat hulle die dissiplinêre paneel sou kon oortuig om sy rooikaart te skrap.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-2-sent teen die dollar, 20-rand-38-sent teen die euro en 24-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-693-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-292-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….