Nuus 15:00
BULLETIN 3 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ntshavheni sê die regering dwing steeds grensveiligheid- en immigrasiebeheer af
# Die Staatsdiensvakbond vra ‘n dringende hersiening van die pensioenfonds se beleggingsmandaat te midde van kommer oor pensioenverliese
# En motorsport: Formule Een-bestuurders gaan in Lego-motors jaag voor Sondag se Grand Prix op Silverstone
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê owerhede onderskep steeds ongedokumenteerde migrante en reisigers met onvoldoende dokumente op Suid-Afrika se grense. Sy sê die Grensbestuursowerheid ondersoek strafregtelike sake wat verband hou met onwettige immigrasie, en verskeie mense is reeds in hegtenis geneem. Ntshavheni vertrou die ondersoeke sal vinnig afgehandel word. Sy het ook bevestig die regering gaan voort om grensinfrastruktuur-opgraderings te versnel, tesame met voortdurende wetstoepassing en beleidshervormings:
# Die Carnilinx-tabakmaatskappy het voor die Madlanga-kommissie getuig die onderneming is wettig, voldoen aan belastingvereistes en is nie by misdaad betrokke nie. Getuienisleier Adila Hassim het uit ‘n beëdigde verklaring voorgelees die onderneming vra die kommissie om staat te maak op bewyse eerder as op nuusberigte, en sê gepubliseerde uittreksels kan buite verband aangehaal word. Sy sê Carnilinx beklemtoon hy is steeds ‘n gelisensieerde vervaardiger onder regulatoriese toesig van die Inkomstediens:
# Die Vereniging van Staatsamptenare is bekommerd oor berigte van beduidende verliese wat voortspruit uit sekere beleggings wat deur die Openbare Beleggingskorporasie gemaak is namens staatsamptenare se pensioenfonds. Die vakbond sê die belangrikste verantwoordelikheid moet altyd die beskerming en groei van lede se aftree-spaargeld bly. Woordvoerder Claude Naicker versoek die pensioenfondsraad om die beleggingsmandaat dringend te hersien en te wysig om toesigmeganismes te versterk en aanspreeklikheid te verbeter:
# Die Departement van Binnelandse Sake sê groot vordering is in die eerste twee jaar van die regering van nasionale eenheid gemaak met digitale hervorming. Slim ID-dienste is na 252 banktakke uitgebrei, met planne om teen die einde van die jaar 750 te bereik. Minister Leon Schreiber sê die departement het ook ‘n digitale visumstelsel en gevorderde planne vir digitale ID’s ingestel, deportasies met 46-persent verhoog en pogings teen korrupsie verskerp. Hy beklemtoon dat tegnologie toegang tot dienste verbeter en regeringsbedrywighede gemoderniseer het.
# Motorsport: Formule Een-renjaers sal ‘n paraderonde in Lego-motors ry voor Sondag se Britse Grand Prix op Silverstone. Dis deel van die Deense speelgoedvervaardiger se reeks geleenthede wat verlede jaar begin het, insluitend in Miami in Amerika waar die renjaers gejaag het in lewensgrootte tweesitplek-elektriese motors wat van Lego-blokkies gebou is. Die drie podiumwenners op verlede jaar se wedren op Silverstone het trofees ontvang wat van Lego gemaak is. Vanjaar se motors is elk van 28-duisend blokkies gebou en kan snelhede van tot 25-kilometer per uur bereik.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-21-sent teen die dollar, 18-rand-56-sent teen die euro en 21-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-886-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-183-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 71-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….