Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ATM eis die bedanking van minister Nzimande en die N-S-FAS-voorsitter
# Die Regspraktykraad kry teenreaksie oor sy toelatingseksamen slegs in Engels is
# En, krieket: Protea-paaltjiewagter tree uit toetskrieket
# Die African Transformation Movement eis die onmiddellike bedanking van die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, en die voorsitter van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, Ernest Khosa. Dit volg op ‘n verdoemende verslag en opnames deur die Organisasie teen Belastingmisbruik, wat bewerings bevat oor die wanbestuur van fondse en korrupsie. Die aantygings beweer Nzimande en Khosa het glo finansiële voordele ontvang van diensverskaffers wat betrokke is by tenders. Zama Ntshona van ATM sê hulle moet aanspreeklikheid aanvaar vir diepgesetelde korrupsie:
# AfriForum eis dat die Regspraktykraad weer ‘n Afrikaanse toelatingseksamen vir prokureurs instel. Dit volg op die raad se onlangse besluit om die eksamen eksklusief in Engels af te neem, wat kommer veroorsaak onder Afrikaanssprekende regslui. Alana Bailey van AfriForum bevraagteken die raad se redenasie, en sê die stap ontneem mense hulle taalregte en kom neer op ‘n aanval op die Afrikaanse taal. Volgens Bailey is AfriForum bereid om verdere optrede in te stel as die raad nie positief reageer nie:
# Kaapstad se hawebestuurder, Rajesh Dana, sê hulle beplan om hulle regmatige plek in te neem as een van die wêreld se voorste hawens. Hulle lei pogings om met alle rolspelers saam te werk om produktiwiteit te verbeter en agterstande uit te wis. Die hawe is op een van die wêreld se besigste handelsroetes en Dana sê dit sal altyd, net vir daardie rede alleen, strategiese en ekonomiese belangrikheid behou. Hy voeg by die beplande ontwikkeling van die Culemborg-gebied langs die hawe staan op die punt om alles te verander wat die verhoging van vermoë betref.
# Krieket: Die Protea-paaltjiewagter Heinrich Klaasen het sy uittrede uit toetse aangekondig nadat hy net vier wedstryde vir Suid-Afrika gespeel het sedert sy debuut in 2019. Die 32-jarige Klaasen het 104 lopies in sy vier toetse aangeteken, maar een-duisend-638 in eendagwedstryde en 710 in T20’s. Hy sê hoewel die langste vorm van die spel sy gunsteling is, glo hy dit is die regte besluit vir hom in dié stadium van sy loopbaan. Klaasen sê rooibalkrieket het hom die speler gemaak wat hy vandag is, maar nou wag daar eers ‘n nuwe uitdaging.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 44-duisend-123-dollar-7-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-22-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-54-sent per vat.
# Ten slotte: Klimaatsverandering raak meer as net die omgewing; dit eis sy tol op die mens se emosies. Die psigoterapeut Barton Goldsmith beskryf hoe individue eko-angs en wanhoop ervaar, wat deur klimaatsverandering beïnvloed word. Volgens Goldsmith word chroniese bekommernisse, vrees en hartseer oor die toekoms al hoe meer algemeen. Navorsing toon dis uiters belangrik om aandag te gee aan die emosionele tol om sodoende ‘n standvastiger toekoms te skep.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….