Nuus 15:00
BULLETIN 20 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA vra vir begroting wat vooruitgang en verandering aan die gang sit
# Vakbond in KZN eis geregtigheid voor gedenkdiens vir mediese intern, Alulutho Mazwi
# En, Nissan ontken gerugte oor aanlegsluitings te midde van nuwe voertuig-bekendstellings
# BOSA het ‘n beroep op die minister van Finansies, Enoch Godongwana, gedoen om ‘n begroting voor te lê wat ekonomiese groei, werkskepping en fiskale verantwoordelikheid met vrymoedigheid voorop stel om vooruitgang en verandering aan die gang te kry. Die party sê die keuses wat in hierdie begroting gemaak word, moet burgers se dringende werklikhede weerspieël. Woordvoerder van BOSA, Roger Solomons, sê die fiskale en bestedingsprioriteite moet nie politieke gerief dien nie, maar die fundamentele taak van ekonomiese transformasie aanspreek:
# Die Vereniging van Staatsamptenare in KwaZulu-Natal doen ‘n beroep vir geregtigheid voor ‘n herdenkingsgeleentheid vir die 25-jarige mediese intern, Alulutho Mazwi, vandag in die Prince Mshiyeni-hospitaal gehou word. Mazwi, wat ‘n diabeet was, het verlede week by die werk ineengestort en gesterf. Die Gesondheidsombud Taole Mokoena het ‘n ondersoek na die saak van stapel gestuur. Die vakbond se provinsiale bestuurder in KZN, Mlungisi Ndlovu, sê verantwoordbaarheid en behoorlike behandeling vir alle mediese praktisyns is dringend nodig:
# Nissan het verduidelik dat onlangse berigte oor moontlike aanlegsluitings spekulatief is en nie gebaseer is op amptelike maatskappyinligting nie. Terwyl die motorvervaardiger wêreldwyd herstruktureer, is geen spesifieke aanlegte vir sluiting bevestig nie. Woordvoerder, Ramy Mohareb, sê Nissan in Suid-Afrika gaan voort om sy voertuigaanbod uit te brei, en het onlangs die plaaslik ontwikkelde Navara PRO-4X Warrior van Premcar bekendgestel en die Navara Stealth by NAMPO onthul. Die nuwe Patrol sal ook later vanjaar vrygestel word.
# Owerhede in Frankryk het ‘n reuse-operasie van stapel gestuur om die gebruik van miniatuur-selfone in gevangenisse landwyd te stop, en 66 gevangenisse in die land deursoek in ‘n poging om beslag te lê op duisende sulke toestelle. Die operasie, genaamd “Prison Break”, is daarop gemik om ‘n stokkie te steek voor die gebruik van die fone in tronke, wat deur ‘n Chinese onderneming vervaardig en in Frankryk herverkoop word. Die gebruik van die toestelle lei tot wetteloosheid in tronke, met gevangenes wat dwelmtransaksies selfs van agter tralies kan reël.
# Rugby: Die Cheetahs het afskeid geneem van ses spelers wie se kontrakte einde Junie verstryk. In ‘n emosionele byeenkoms het spanmaats en personeel die bydraes van hierdie spelers vereer wat die oranje trui met trots gedra het. Die unie het Schalk Ferreira, Jeandré Rudolph, Andisa Ntsila, Laurence Victor, Robert Hunt en Andell Loubser alles van die beste toegewens met hulle toekomstige pogings. Die Cheetahs se SA Beker-veldtog het Saterdag ten einde geloop na ‘n naelskrapse nederlaag in die halfeindstryd teen die Griekwas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-22-sent teen die euro en 24-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-972-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-238-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….