Nuus 15:00
BULLETIN 19 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom gaan satelliete ontplooi om ongeregistreerde sonpaneelstelsels op te spoor
# Trump beweer Harris het beroemdes betaal om haar verkiesingsveldtog te bevorder
# En tennis: Alcaraz skuif op na tweede op die wêreldranglys na sy oorwinning in Rome
# Eskom het planne aangekondig om satelliete te gebruik om ongeregistreerde sonpaneelinstallasies reg oor Suid-Afrika te identifiseer. Die stap volg na kommer oor die uitwerking van ongeregistreerde stelsels op die nasionale elektrisiteits-infrastruktuur. Die projek het ten doel om nakoming van regulasies te verseker wat vereis dat alle sonpanele wat aan die netwerk gekoppel is, geregistreer moet word, selfs al voer hulle nie kra terug na die netwerk nie. Die kragvoorsiener sê deur gebruik te maak van satelliet-tegnologie beoog hy om sy registrasieveldtog te versterk om netwerk-bestendigheid te handhaaf.
# AfriForum het die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, gevra om ondersoek in te stel na SANParke nadat die Hooggeregshof in Pretoria ‘n IT-kontrak van een-miljard-rand geskrap het omdat dit onregmatig was. Die transaksie, wat aan ‘n polities gekoppelde sakeman toegeken is, het die tenderreëls omseil. Marais de Vaal van AfriForum sê dit ondermyn bewaringspogings en hy vra verantwoordbaarheid en openbare steun om nasionale parke teen korrupsie en wanbestuur te beskerm:
# Twee mense is dood en een is beseer nadat ’n vragmotor wat die toneel van ’n betoging genader het, voetgangers in Diepkloof, Soweto, getref het. Inwoners van die Diepkloof-hostel eis grond, ontwikkeling, asook water- en sanitasie-infrastruktuur. Polisiewoordvoerder Mavela Masondo sê een persoon is in die hospitaal opgeneem, en die polisie ondersoek ’n saak van openbare geweld:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, sê hy wil ’n ondersoek begin na sy teenstander in 2024 se verkiesing, Kamala Harris, oor beroemdes wat haar gesteun het. Hy sê kandidate mag nie betaal vir steunverklarings nie en beweer sy het dit gedoen onder die dekmantel van betaling vir vermaak. Oprah Winfrey het ’n betaling van 18-miljoen-rand aan haar produksiemaatskappy verdedig deur te sê dit was om kostes te dek vir die onderhoud met Harris. Harris se span het gerugte ontken dat sy Beyoncé 180-miljoen-rand betaal het om by ’n byeenkoms op te tree.
# Tennis: Carlos Alcaraz van Spanje het Alexander Zverev van Duitsland in die tweede plek op die wêreldranglys vervang nadat hy nommer-een, Jannik Sinner, gister in die eindstryd van die Italiaanse Ope geklop het. Die Italianer het op 10 Junie verlede jaar die posisie oorgeneem. Sy landgenoot, Lorenzo Musetti, het sy hoogste posisie, agste, bereik en die Australiër Alex de Minaur verbygesteek. Die Amerikaner Taylor Fritz is steeds vierde, gevolg deur Jack Draper van Brittanje, Novak Djokovic van Serwië en die Noorweër Casper Ruud. Holger Rune van Denemarke is tiende.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-3-sent teen die dollar, 20-rand-33-sent teen die euro en 24-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-dollar-72-sent. Die prys van goud is drie-duisend-242-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….