Nuus 15:00
BULLETIN 16 Mei 3 nm
Goeiemôre/Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Pandor vra versekeraars om saam te werk met wêreldleiers oor risikobestendigheid
# Die Parlement ondervra die NVG oor Omotoso se vryspraak
# En rugby: Eben Etzebeth is slaggereed om môre teen Scarlets te speel
# Die raadsvoorsitter van die Nelson Mandela-stigting, Naledi Pandor, het versekeringsinstellings wêreldwyd versoek om saam te werk met wêreldleiers om toenemende wêreldrisiko’s hok te slaan. Sy het gepraat op die konferensie van die Internasionale Forum van Terrorisme-risikoversekerings-groepe in Kaapstad. Pandor het die behoefte aan gesamentlike optrede beklemtoon te midde van toenemende geweld, ekstremisme en klimaatbedreigings. Sy beklemtoon ook inklusiewe strategieë word vereis om hierdie uitdagings te versag:
# Die Parlement se komitee vir Justisie en Grondwetlike Sake het die Nasionale Vervolgingsgesag ondervra oor die hantering van die saak teen die Nigeriese tele-evangelis Timothy Omotoso. Die komitee is bekommerd omdat hy en sy medebeskuldigdes onskuldig bevind is op 32 aanklagte, insluitend verkragting en mensehandel, ná ‘n verhoor wat jare-lank voortgesleep het. Die komitee het verskeie kwessies uitgelig, insluitend onvoldoende kruisondervraging. Die NVG se hoof, Shamila Batohi, erken die tekortkominge en het moontlike regsfoute in die verhoor aangehaal:
# Die DA het die Departement van Korrektiewe Dienste veroordeel ná onthullings dat verskeie gevaarlike gevangenes uit aanhouding ontsnap het – insluitend die veroordeelde moordenaar Xolani du Preez. Nicholas Gotsell van die DA sê die ontsnappings openbaar ’n ernstige mislukking in die stelsel en ’n ineenstorting van leierskap. Gotsell vra dringende parlementêre toesig nadat minister Pieter Groenewald erken het dat hy nie van die voorvalle bewus was nie. Gotsell beklemtoon dat openbare veiligheid nie in die gedrang gebring mag word nie:
# Rugby: Eben Etzebeth het vinnig herstel en sal môre vir die Haaie speel in hul laaste Verenigde Rugbykampioenskaps-ligawedstryd teen Scarlets in Durban. Die Springbok-slot het van die veld gehinkepink tydens verlede naweek se oorwinning oor Ospreys, maar dit blyk dit was slegs ’n stamp teen die been. Emile van Heerden sal saam met Etzebeth in die tweede ry sak. Die Bok-loskopstut Ox Nché is terug nadat hy siek was, terwyl Phepsi Buthelezi die nommer agt-trui sal dra in die plek van Bok-kaptein Siya Kolisi, wat ruskans kry.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-6-sent teen die dollar, 20-rand-24-sent teen die euro en 24-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-758-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-172-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-36-sent per vat.
# En laastens, ‘n nuwe studie het bevind byna ʼn derde van die antibiotika wat mense inneem, wat sowat agt-duisend-500 metrieke ton per jaar is, beland in riviere. Dit wek kommer oor die gevaar vir waterlewe en toenemende weerstandigheid teen antibiotika. Navorsers het 40 algemene antibiotikas nagespoor en uitgevind die besoedeling is wydverspreid, selfs op plekke waar min data beskikbaar is. Volgens die joernaal, PNAS Nexus, is amoksisillien die algemeenste, veral in gebiede met swak watersuiweringstelsels. Kenners sê beter monitering en suiweringstelsels is nodig om risiko’s te verminder.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….