Nuus 15:00
BULLETIN 15 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet verwerp Amerikaanse vlugtelingstatus vir Afrikaners
# Motsoaledi sê die onttrekking van Amerikaanse befondsing sal nie die stryd teen MIV/VIigs in duie laat stort nie
# En motorsport: McLaren gaan na verwagting omvattende opgraderings aanbring vir die naweek se Grand Prix op Imola
# Die kabinet kritiseer Amerika se besluit om vlugtelingstatus aan sommige Afrikaners toe te ken en noem bewerings van vervolging ongegrond en misleidend. Die kabinet is van mening hierdie besluit ondermyn Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie en is ‘n wanvoorstelling van die land se menseregterekord. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het op ‘n nuuskonferensie gesê die regering sal met diplomatieke kanale skakel om die Amerikaanse besluit te betwis:
Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê intussen die stryd teen MIV/Vigs in die land sal nie in duie stort weens die onttrekking van Amerikaanse befondsing nie. Hy het die jongste inligting gegee oor die uitwerking van die befondsing wat onttrek is, sowel as die land se reaksie daarop en die vordering wat gemaak is om dit te versag. Die minister sê slegs 7,9-miljard-rand van die 46,8-miljard-rand wat aan MIV/Vigs-befondsing toegeken is, vorm deel van die Presidensiële Noodplan vir Vigs-verligting:
# Die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge beklemtoon ‘n dringende behoefte aan regeringsingryping om die SABC se ineenstorting te verhoed. Die SABC benodig ongeveer 7,5-miljard-rand om sy onbefondsde openbare diens-mandaat te vervul. SKOOR se voorsitter, Songezo Zibi, het die uitsaaier se finansiële onbestendigheid uitgelig en waarsku sonder bykomende befondsing verkeer sy volhoubaarheid in gevaar:
# Die DA in die Oos-Kaap sê die provinsiale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het in die eerste kwartaal van vanjaar slegs nege vragte voedselpakkies aan skole afgelewer. Dit behels twee vragte in Januarie en sewe in Maart, ondanks ’n begroting van 6,1-miljoen-rand. Marlene Ewers van die DA noem dit ’n katastrofiese mislukking te midde van die verergerende kostekort. Sy eis ’n dringende oudit en maandelikse verslagdoening, en waarsku dat ‘n gebrek aan optrede lewens kos terwyl wanvoeding onder kinders aanhou styg.
# Motorsport: McLaren gaan na verwagting omvattende opgraderings aan sy motors aanbring vir die naweek se Emilia Romagna Grand Prix op Imola in Italië. Die span het dié seisoen reeds vyf van die eerste ses wedrenne gewen en het ‘n voorsprong van 105-punte boaan die vervaardigers-kampioenskap. Die Brit Lando Norris, wat 16 punte agter sy Australiese spanmaat Oscar Piastri is in die bestuurders-kampioenskap, sukkel egter met sy motor. McLaren se spanhoof, Andrea Stella, hoop die opgraderings sal die motor makliker maak vir Norris om te bestuur.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-11-sent teen die dollar, 20-rand-27-sent teen die euro en 24-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-264-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-176-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….