Nuus 15:00
BULLETIN 14 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# GOOD sê inwoners van die Kaapse Vlakte voldoen aan alles vir Amerikaanse vlugtelingstatus behalwe velkleur
# Mbalula sê Ramaphosa se komende besoek aan Amerika sal misverstande oor volksmoord ontlont
# En die Padverkeersbestuurskorporasie waarsku toenemende bestuurder-omkopery is ‘n groot padveiligheidskwessie
# Die GOOD-party sê talle inwoners van die bendegeteisterde Kaapse Vlakte behoort te kwalifiseer om deur Amerika oorweeg te word as potensiële vlugtelinge. Die party sê die enigste rede waarom dit nie gebeur nie, is hul velkleur. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê volgens amptelike misdaadstatistieke vir die laaste kwartaal verlede jaar, is daar slegs een moord op ‘n wit boer aangeteken. Hy sê dit is die sogenaamde volksmoord waarvoor die Trump- administrasie oënskynlik geval het en wat AfriForum verkondig:
Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê intussen president Cyril Ramaphosa se beplande werksbesoek aan Amerika sal die bewerings van volksmoord teen wit Afrikaners ontlont. Hy het aan die kantlyn van die ANC se Duma Nokwe-gedenklesing in Sedibeng in Gauteng teenoor SABC News beklemtoon dat die besoek Suid-Afrika se soewereiniteit sal toon en hopelik betrekkinge tussen die twee lande sal herstel:
# Die uitvoerende hoof van die Padverkeersbestuurskorporasie, Makhosini Msibi, sê bestuurders wat beamptes wil omkoop neem toe, veral onder diegene wat vir dronkbestuur in hegtenis geneem word. Hy het in die Parlement gewaarsku die oortuiging dat bestuurders hulself uit ‘n situasie kan koop, die neiging verder aanvuur. Msibi sê voetgangergedrag, spoed en dronkbestuur bly die hoofoorsake van padsterftes, met 41-persent van die jaarlikse sterftes wat voetgangers is. Hy versoek dringende optrede om hierdie kwessies aan te pak en padveiligheid te verbeter.
# BOSA se leier, Mmusi Maimane, het die party se ‘Begroting vir die Mense’-projek van stapel gestuur. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sal na verwagting volgende Woensdag die derde begrotingstoespraak en fiskale raamwerk in die Parlement ter tafel lê. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, sê hulle het die ‘Begroting vir die Mense’ van stapel gestuur in ‘n poging om Suid-Afrikaners se stemme die middelpunt van die begrotingsproses te maak:
# Rugby: Die voormalige Engelse skrumskakel Danny Care het aangekondig dat hy aan die einde van hierdie seisoen sal uittree. Die 38-jarige het oor ‘n tydperk van 16 jaar 101 toetse vir Engeland gespeel en sy internasionale loopbaan ná verlede jaar se Sesnasiestoernooi beëindig. Hy het aan twee Wêreldbekertoernooie deelgeneem en was deel van Engeland se Grand Slam-span van 2016, asook van die Sesnasieskampioenspan in 2011 en 2017. Care het byna 400 wedstryde vir Harlequins gespeel, en het die Premierskap twee keer gewen en die Uitdaagbeker in 2011.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 24-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-917-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-238-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….