Nuus 15:00
BULLETIN 12 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Omotoso doen in die Hooggeregshof aansoek teen Binnelandse Sake se besluit om hom tot verbode persoon te verklaar
# ‘n Vrou wat borgtog kry vir brandstigting by Kelly Smith se huis toon geen berou nie
# En die laaste Amerikaanse gyselaar in Gaza word vandag vrygelaat
# Die Nigeriese tele-evangelis Timothy Omotoso het ‘n dringende aansoek by die Hooggeregshof ingedien om die Departement van Binnelandse Sake se besluit te hersien, waarvolgens hy as ‘n verbode persoon verklaar is. Dit volg na sy vryspraak op 32 aanklagte van verkragting en mensehandel rakende jong vroue in sy Jesus Dominion International Church. Omotoso het agt jaar in die St Albans-gevangenis deurgebring. Die destydse waarnemende regter Donovan Pitt het die oorspronklike verbod verlede jaar tersyde gestel. Volgens Binnelandse Sake het minister Leon Schreiber Omotoso se jongste beroep van die hand gewys om die besluit om te keer.
# Die Landdroshof in Vredenburg aan die Weskus het borgtog van 500-rand toegestaan aan ‘n vrou wat beskuldig word van brandstigting by Kelly Smith se huis in Middelpos, Saldanhabaai. Die voorval het plaasgevind nadat Smith en haar medebeskuldigdes skuldig bevind is aan ontvoering en mensehandel van die sesjarige Joslin. Die 27-jarige Monique Kekana sal op 25 Junie weer in die hof verskyn. Sy het teenoor Newzroom Afrika geen berou getoon nie en sê sy het dit gedoen om geregtigheid vir Joslin te bekom:
# Build One South Africa vra volle deursigtigheid ná die onthulling dat Gold Rush Consortium die voorkeurbieër is vir die kontrak van miljarde-rand om Suid-Afrika se nasionale lotery te bedryf. Woordvoerder Roger Solomons sê dit volg op die party se aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting om die name van alle lede van die beoordelingspaneel te verkry. Hy sê minstens twee lede van die tender-evalueringskomitee, Thiran Marimuthu en Anne-Marie Pooley, het skynbaar bande met die konsortium:
# ’n Israeliese amptenaar sê die Weermag is besig om voor te berei vir die vrylating van ‘n Amerikaans-Israelse gyselaar, die 21-jarige Edan Alexander, wat sedert Oktober 2023 in Gaza aangehou word. Hamas se gewapende vleuel sê hy sal Alexander vandag vrylaat. Hy is die laaste lewende gyselaar in Gaza met Amerikaanse burgerskap. Alexander was naby Gaza se grens aan diens toe hy op 7 Oktober 2023 gevange geneem is tydens Hamas se aanval op Israel, waar hy op ‘n militêre pos gestasioneer was.
# Sokker: Orlando Pirates het afrigter José Riveiro se versoek om vroeë vrystelling toegestaan nadat hy ‘n kontrak geteken het by ’n nuwe klub. Sy kontrak sou oorspronklik tot volgende maand geduur het. Môre se kragmeting met Golden Arrows sal die Spanjaard se laaste wedstryd wees. Die voorsitter van die Premier-sokkerliga, Irvin Khoza, het Riveiro geloof vir sy suksesvolle tydperk, waartydens hy sedert 2022 vyf belangrike trofees gewen het. Hulpafrigter Mandla Ncikazi neem oor as waarnemende afrigter, en word ondersteun deur die ontleder Rayaan Jacobs en die tegniese span.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-30-sent teen die dollar, 20-rand-31-sent teen die euro en 24-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-323-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-215-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….