Nuus 15:00
BULLETIN 6 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA dring aan dat die minister van Basiese Onderwys ‘n volledige uiteensetting lewer oor die onderwys-begroting
# Die NVG gaan appelleer teen die toestaan van borgtog aan PSL se hoofbestuurder en sy vrou
# En die wedersydse aanvalle deur Oekraïne en Rusland gaan onverpoosd voort
# Build One South Africa vra die parlementêre portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys om aan te dring dat minister Siviwe Gwarube ‘n omvattende uiteensetting van die nasionale onderwysbegroting van 330-miljard-rand moet verskaf. BOSA wil weet hoeveel aan onderwysers, administrateurs en onderwysbeamptes regoor die land betaal word. Woordvoerder Roger Solomons sê die minister het haar verantwoordelikheid ontduik deur aan die Parlement te sê om die provinsies te gaan vra:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag in die Wes-Kaap gaan appèl aanteken teen die toestaan van borgtog aan die Premier-sokkerliga se hoofbestuurder en voormalige FIFA-skeidsregter, Ace Ngcobo, en sy vrou, Salome. Bellville se Landdroshof het borgtog op onderskeidelik 50-duisend en 30-duisend-rand vasgestel met hulle verskyning op aanklag van bedrog en geldwassery. Zinzi Hani van die Valke sê die aanklagte hou verband met ‘n skenking van 15-miljoen-rand van PetroSA vir skoolbou-projekte in die Oos-Kaap 12-jaar gelede:
# Die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging sal beskermingstariewe op die invoer van warmgewalste staal hef ná die finale aanbeveling van Suid-Afrika se kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie. Tariewe begin in die eerste jaar op 13-persent, elf persent in die tweede jaar en nege persent in jaar drie. Die departement sê dit is om plaaslike vervaardigers teen ‘n onlangse toename in goedkoper invoere te beskerm. Dié tydelike maatreël sal die plaaslike bedryf kans gee om te herstel en meer mededingend te word. Vrystellings geld vir ontwikkelende lande met minimale invoervolumes.
# Russiese hommeltuigaanvalle het oornag die noordoostelike Kharkiv-streek van Oekraïne getref. Die Barabashovo-mark in die stad Kharkiv is een van die plekke wat getref is en grootliks afgebrand het. Dit volg ná ‘n Oekraïense hommeltuigaanval op Moskou wat die tydelike sluiting van die stad se lughawens veroorsaak het. Dit is die tweede agtereenvolgende nag dat Moskou deur Oekraïne aangeval word. Die aanval volg drie dae voor ‘n groot parade in die stad om die oorwinning in Europa tydens die Tweede Wêreldoorlog te herdenk.
# Rugby: Die Wallabies se hoofafrigter, Joe Schmidt, sê die 34-jarige James O’Connor sal oorweeg word vir vanjaar se reeks teen die Britse en Ierse Leeus. Hy het in 2013 losskakel gespeel teen die Leeus, en Schmidt sê hy sal keuses bied omdat hy ook senter kan speel. Die ander moontlike losskakels is Noah Lolesio en Tom Lynagh. Schmidt, wat vertrek na vanjaar se Rugbykampioenskap, sê hy is vasbeslote om ‘n span agter te laat vir ‘n suksesvolle tuis-Wêreldbekertoernooi in 2027.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 20-rand-69-sent teen die euro en 24-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-909-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-381-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….