Nuus 15:00
BULLETIN 5 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mashatile sê swart ekonomiese bemagtiging bly ‘n belangrike deel van die ekonomiese landskap
# Sakegroepe beplan gesamentlike regstappe teen die Wysigingswet op Diensbillikheid
# En die nuwe Transmissiemaatskappy van Suid-Afrika word binnekort bekendgestel om dieenergienetwerk te versterk
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê ekonomiese regstelling en transformasie het praktiese stukrag gekry deur verskeie wette, onder meer die Wet op Swart Ekonomiese Bemagtiging van 2003, soos gewysig in 2013. Hy sê dit bly ‘n noodsaaklike deel van die land se ekonomiese landskap. Mashatile sê oor die afgelope 22 jaar het die beleid asook wetgewende en regulatoriese instrumente rondom swart ekonomiese bemagtiging ontwikkel, om die uitdagings en geleenthede aan te pak wat ‘n inklusiewe ekonomie vir alle Suid-Afrikaners bevorder:
Die sakegroepe Sakeliga en die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika, NEASA, het intussen die nuwe Wysigingswet op Diensbillikheid as ongrondwetlik, onuitvoerbaar en skadelik gekritiseer. Hulle voer aan die sektor-numeriese teikens kom neer op onwettige rasgegronde kwotas wat ekonomiese waarde kan vernietig. Dit is deel van die DA se regsoptrede waarvolgens beweer word die wet skend gelykheidsregte. Die regering hou vol die teikens is buigsaam en op billikheid gemik. Sakeliga en NEASA beplan gesamentlike regstappe en waarsku oor ernstige ekonomiese en maatskaplike skade indien die wet toegepas word.
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, het die bekendstelling van ‘n nuwe Suid-Afrikaanse transmissie-onderneming aangekondig om die nasionale elektrisiteitsnetwerk te verbeter. Die Nasionale Transmissiemaatskappy van Suid-Afrika, ‘n filiaal van Eskom, sal kraglyne bestuur en uitbrei, wat sal help om die aanbod bestendig te hou en hernubare energie te ondersteun. Ramokgopa het herhaal die projek is daarop gemik om privaat beleggings te lok en die land se energie-infrastruktuur te vernuwe.
# Israel se veiligheidskabinet het die uitbreiding van militêre operasies in Gaza goedgekeur, insluitend die oorname van die Palestynse gebied. Die Leër het tien-duisende reserviste vir die aanslag opgeroep. Die plan, wat oornag goedgekeur is, sluit die behoud van gebiede in die beleërde Gazastrook in en val saam met Israel se aanmoediging van inwoners van Gaza om die gebied te verlaat. Israel het op 18 Maart groot operasies regoor Gaza hervat te midde van ‘n dooiepunt oor hoe om voort te gaan ná ‘n skietstilstand van twee maande.
# Motorsport: Die sewemalige Formule Een-wêreldkampioen, Lewis Hamilton, sê baie van die frustrasie wat hy tydens gister se Miami Grand Prix oor die spanradio uitgespreek het, is veroorsaak deur Ferrari se langdurige probleme. Hy het gefrustreerd geraak toe hy sy spanmaat Charles Leclerc ingehaal het omdat hy vinniger was, maar nie onmiddellik deurgelaat is om Kimi Antonelli van Mercedes om die sesde plek te probeer uitdaag nie. Hamilton was agtste en Leclerc sewende. Hamilton sê hy sal dit privaat met die span uitwerk:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-28-sent teen die dollar, 20-rand-75-sent teen die euro en 24-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-158-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-313-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 60-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….