Nuus 15:00
BULLETIN 30 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana lewer hersiene 2025-begroting op 21 Mei
# Wakker bestuurder ontsnap van transitorowers deur by Umlazi-winkelsentrum in te ry
# En, die VSA en Iran sit Saterdag kernkrag-onderhandelinge voort
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, gaan die 2025-begroting op 21 Mei weer ter tafel lê. Dit volg na ‘n besluit om die voorgestelde BTW-verhoging van 0.5-persentasiepunte om te keer. Godongwana het aan die media gesê die hersiene begroting sal bygewerkte fiskale projeksies, leningsplanne en inkomsteberamings insluit. Dit sal volledig met die kabinet en politieke partye in die regering van nasionale eenheid bespreek word:
# ‘n Transitorooftog in Umlazi, suid van Durban is vroeër vanoggend dramaties gefnuik, nadat ‘n bestuurder die gewapende rowers ontduik het deur by die Mega City-winkelsentrum in te ry. Die voertuig is op die N2-snelweg in ‘n lokval gelei. ‘n Woordvoerder van A-L-S Paramedici, Garrith Jamieson, sê die bestuurder het vinnig gereageer en by die winkelsentrum se parkeerarea ingery, waarna sekuriteit die hekke gesluit en die aanvallers gedwing het om te vlug terwyl skote afgevuur is:
# Iran en die Verenigde State sal Saterdag in Rome ’n vierde rondte van gesprekke voer oor die Islamitiese Republiek se kernprogram. Die aartsvyande het reeds drie rondtes gesprekke gevoer om ’n ooreenkoms oor die kernprogram te bereik. Die Weste glo dit is gemik op die ontwikkeling van kernwapens, ’n bewering wat Teheran ontken. Die gesprekke, wat op 12 April begin het en deur Oman bemiddel word, is die hoogste vlak van kontak in jare tussen die twee lande.
# Fietsry: Die Giro d’Italia gaan tydens die laaste skof van vanjaar se wedren aan wyle Pous Franciskus hulde bring. Volgens ‘n aankondiging voor die Pous se dood op 21 April, sal die Giro vanjaar vir die eerste keer in sy geskiedenis, op 1 Junie deur die Vatikaan ry. Die 108ste Giro begin op 9 Mei in Albanië. Die Giro is saam met die Tour de France en die Vuelta a Espana, een van fietsry se belangrikste drie-week-wedrenne.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-58-sent teen die dollar, 21-rand-15-sent teen die euro en 24-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-139-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-281-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-72-sent per vat.
# En laastens, vyf Suid-Afrikaanse rolprentvervaardigers gaan hulle onafhanklike kortfilms in Junie by die 29ste jaarlikse Amerikaanse Swart Rolprentfees in Miami tentoonstel. Ayanda Halimana, Kopedi Aphane, Donna Sibande, Chris Djuma, en Nondumiso Buthelezi-Masache is as die wenners van die eerste Suid-Afrikaanse Kortrolprentfees aangewys, ‘n nuwe program wat by vanjaar se geleentheid bekendgestel word. Die fees se stigter, Jeff Friday, sê hulle is stomgeslaan deur die gehalte, oorspronklikheid en emosionele krag van die inskrywings wat hulle vanjaar van Suid-Afrika ontvang het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….