Nuus 15:00
BULLETIN 25 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Hooggeregshof in Pretoria tydelik gesluit weens kragonderbreking
# Die DA vra inligting oor die vordering met die oplossing van probleme by die Openbare Beleggingskorporasie
# En die Posbank sê Sassa se gouekaarte sal na volgende maand steeds werk
# Die Gautengse Afdeling van die Hooggeregshof in Pretoria is vandag tydelik gesluit weens ‘n kragonderbreking. Die hoofregter se kantoor het aangekondig hofbedrywighede is vir die res van die dag opgeskort en alternatiewe reëlings sal getref word met partye wat geraak is. Die Stad Tshwane worstel met verskeie kragonderbrekings, insluitend ‘n brand by die Waltloo-substasie. Dit het wydverspreide kragonderbrekings in Rooiwal, Pyramid, Phumulani, Waltloo en Koedoespoort veroorsaak.
# Regter Phillip Loubser van die Hooggeregshof in die Vrystaat het beslis dat die gewese persoonlike assistent van die voormalige premier, Ace Magashule, Moroadi Cholota, se betwisting van die hof se jurisdiksie oor haar uitlewering vanuit Amerika in ’n binneverhoor behartig sal word. Cholota, Magashule en ander staan tereg in die asbes-saak van 255-miljoen-rand. Loubser het bevind dat die staat nie daarin geslaag het om die voortsetting van die hoofverhoor te regverdig voordat haar spesiale pleit afgehandel is nie:
# Die DA sê hy het ‘n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting by die Nasionale Tesourie ingedien. Hy wil vasstel watter aanbevelings van die Mpati-kommissie oor die Openbare Beleggingskorporasie ingestel word. ʼn Kommissie van ondersoek onder leiding van regter Lex Mpati het in 2020 ʼn magdom bestuurs-, bedryfs- en etiese mislukkings ontbloot. ʼn DA-woordvoerder, Andrew Bateman, sê die kommissie het ʼn reeks aanbevelings gemaak om gebreke en openbare vertroue te herstel:
# Die Posbank het bevestig SASSA se gouekaarte sal ná 31 Mei steeds geldig wees. Begunstigdes kan voortgaan om betalings te ontvang en hul kaarte by ‘n kitsbank, kleinhandelwinkels of vir aankope te gebruik. Die uitvoerende hoof, Nikki Mbengashe, het die versekering gegee dat daar geen ontwrigtings sal wees tydens die oorgang na die swartkaarte nie. Die Posbank waarsku teen waninligting en versoek begunstigdes om slegs staat te maak op amptelike aankondigings. Die bank bevestig die verspreiding van die nuwe swartkaarte is tydelik onderbreek, maar noodsaaklike dienste bly beskikbaar.
# Motorsport: Die sesmalige MotoGP-wêreldkampioen, Marc Marquez, is opgewonde oor die naweek se Spaanse Grand Prix op sy tuisbaan in Jerez. Die jaer van Ducati Lenovo vertoon hierdie seisoen indrukwekkend en het drie van die eerste vier wedrenne gewen. Hy is voor op die punteleer – 17 punte voor sy jonger broer, Alex. Márquez het al drie keer in Jerez gewen, maar sê dis net so belangrik soos enige ander wedren en vereis deeglike voorbereiding:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-83-sent teen die dollar, 21-rand-40-sent teen die euro en 25-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-131-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-295-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….