Nuus 15:00
BULLETIN 22 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Omstredenheid oor voortgesette noodverligtingsbetalings van 408-miljoen-rand aan taxibedryf
# Amerikaanse universiteite en kolleges verdoem president Donald Trump se inmenging
# En die pous word Saterdag begrawe
# Die leier van BOSA, Mmusi Maimane, bevraagteken die deursigtigheid rakende die voortgesette betalings van die Covid-19-toelaag aan die taxibedryf. ‘n Bedrag van 408-miljoen-rand word in die 2025/26-begroting toegeken. Hierdie eenmalige bydrae het ten doel om die oorblywende 53-duisend-407 kwalifiserende operateurs te help wat nog ondersteuning moet ontvang. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, het kommer uitgespreek oor aanspreeklikheid en beklemtoon voorkeure in die besteding van openbare fondse in moeilike tye:
# Die DA in Gauteng het die provinsiale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling gekritiseer oor onreëlmatige besteding van 1,3-miljard-rand, waarvan 210-miljoen-rand tussen April en Desember verlede jaar plaasgevind het. Alan Fuchs van die DA skryf dit toe aan die nie-nakoming van wetgewing wat gelei het tot die sluiting van organisasies sonder winsbejag en weerhouding van noodsaaklike dienste aan kwesbare inwoners. Hy vra ‘n ondersoek na die departement se mislukkings, asook die vrystelling van uitstaande forensiese verslae:
# Meer as ‘n honderd Amerikaanse universiteite en kolleges, insluitend Ivy League-instellings soos Princeton en Brown, het vandag ’n gesamentlike brief uitgereik waarin hulle president Donald Trump se politieke inmenging in die onderwysstelsel veroordeel. Dit volg nadat Harvard die Trump-administrasie gedagvaar het nadat Trump gedreig het om befondsing te sny en eksterne politieke toesig in te stel. Trump het probeer om verskeie vooraanstaande instellings tot orde te roep oor bewerings dat hulle anti-Semitiese gedrag op kampusse duld. Hy dreig om hul begrotings, belastingvrye status en buitelandse inskrywing te heroorweeg.
# Tennis: Die 22-malige Grand Slam-kampioen Rafael Nadal sê hy mis nie die sport sedert hy in November uitgetree het nie. Die 38-jarige Spanjaard is vereer met die Sportikoon-toekenning op die Laureus-wêreldsporttoekennings in Madrid. Nadal sê hy het sy loopbaan op ’n gelukkige noot afgesluit, maar sou voortgegaan het as dit moontlik was, omdat hy baie lief was vir die sport. Hy sê hy het die gemoedsrus dat hy alles vir tennis gegee het, en het daarin geslaag om daardie hoofstuk van sy lewe af te sluit.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-63-sent teen die dollar, 21-rand-41-sent teen die euro en 24-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-569-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-458-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-16-sent per vat.
# En laastens, die Vatikaan het aangekondig dat pous Franciskus Saterdag begrawe sal word, terwyl wêreldleiers soos die Amerikaanse en die Oekraïnse president, Donald Trump en Volodimir Zelensky, dit gaan bywoon om die Katolieke leier te vereer. Die diens, wat na verwagting groot skares sal lok, sal plaasvind op die plein voor die Sint Petrus-basilika in die Vatikaanstad. Die pous se kis, wat hy vroeër beveel het van hout en sink gemaak moet word, sal daarna in die kerk ingedra word en van daar na die Basilika van Santa Maria Maggiore vir die begrafnis.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….