Nuus 15:00
BULLETIN 1 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die meeste van gister se betogings was vreedsaam met 900 inhegtenisnemings
# TLU SA verwelkom Willie Aucamp as die nuwe minister van Landbou
# En krieket: Kapp sê die Proteas wil Suid-Afrika se gemoedere lig nadat Bafana uit die Wêreldbekertoernooi geskakel is
# Die Nasionale Gesamentlike Bedryfs- en Intelligensiestruktuur sê die meerderheid van gister se landwye betogings was vreedsaam en 108 van die 120 optogte was sonder voorval. Meer as 900 mense is in hegtenis geneem vir onder meer openbare geweldpleging, plundering, sake-rooftogte en immigrasie-verwante oortredings. Adjunk-nasionale polisiekommissaris, Tebello Mosikili, het op ‘n nuuskonferensie gesê gekoördineerde operasies het gehelp om bestendigheid te handhaaf, terwyl vinnige reaksies voorvalle van plundering en openbare geweldpleging onderdruk het:
# Die landbou-organisasie TLU SA verwelkom Willie Aucamp se aanstelling as nuwe minister van Landbou, maar waarsku die sektor benodig bestendigheid, politieke samehang en dringende optrede. Hoofbestuurder Bennie van Zyl sê die onmiddellike nood is beheer oor bek-en-klouseer deur gekoördineerde openbare en privaat sektor-pogings. Hy wys op stygende insetkoste, biosekerheid en marktoegang-uitdagings, en beklemtoon boere sal Aucamp meet aan optrede en nie aan beloftes nie:
# Suid-Afrika se ekonomie bly op die herstelpad, maar groei sal na verwagting beskeie bly teen ongeveer 1,2-persent vanjaar. PwC Suid-Afrika sê die land het ses agtereenvolgende kwartale van groei aangeteken, maar sakevertroue en belegging is besig om te verswak. Hoë brandstofpryse, ‘n swakker rand en wêreldwye onsekerheid dryf inflasie en hou rentekoerse langer hoër. Die mynbousektor se vooruitsigte bly positief, terwyl kenners sê sterker belegging en beleidsekerheid word benodig om langtermyn-ekonomiese groei te handhaaf.
# Shell is volgens berigte naby aan die verkoop van sy Suid-Afrikaanse brandstof-kleinhandelonderneming aan die Abu Dhabi National Oil Company se kleinhandeleenheid vir sowat 16-miljard-rand. Die ooreenkoms sal die maatskappy beheer gee oor ongeveer 600 vulstasies, wat na raming tien-persent van Suid-Afrika se brandstof-kleinhandelmark verteenwoordig. Adnoc Distribution is die grootste brandstof- en geriefskleinhandelaar in die Verenigde Arabiese Emirate. Die verkoop vorm deel van Shell se strategie om nie-kernbates te verkoop, terwyl Adnoc voortgaan om sy wêreldwye voetspoor uit te brei. ‘n Finale ooreenkoms moet nog onderteken word.
# Krieket: Die veelsydige veteraan, Marizanne Kapp, sê die Protea-vrouespan is gretig om Suid-Afrika se gemoedere te lig nadat Bafana Bafana uit die Wêreldbeker-sokkertoernooi geskakel is. Die Proteas speel môre teen die mede-gasvrou, Engeland, in die halfeindronde van die T20-Wêreldbekertoernooi. Kapp sê hul hoofdoel was nog altyd om ‘n Wêreldbeker vir Suid-Afrika te wen, aangesien niks die land so bymekaarbring soos sport nie. Môre se wenner sal Sondag teen Australië in die eindstryd speel nadat die sesmalige kampioen die Wes-Indiese Eilande in gister se eerste halfeindstryd verslaan het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 18-rand-70-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-640-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-24-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 72-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….