Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Amerika veroordeel Suid-Afrika se volksmoordsaak teen Israel
# Die DA sê landsburgers kan nie paspoorte bekom nie want Binnelandse Sake se stelsel is weer van lyn af
# En, motorsport: Verskeie Suid-Afrikaners neem van môre af deel aan die uitmergelende Dakar
# Amerika het Suid-Afrika veroordeel vir die volksmoordsaak wat by die Internasionale Geregshof in Den Haag teen Israel aanhangig gemaak is oor die oorlog in Gaza. Suid-Afrika wil hê die hof moet Israel beveel om sy militêre operasie te staak. Die woordvoerder van die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake, Matthew Miller, sê Suid-Afrika se voorlegging word beskou as sonder meriete:
# Die DA sê die Departement van Binnelandse Sake se stelsel is landwyd van lyn af en volgens berigte is daar ‘n probleem by die Staatsinligtingstegnologie-agentskap. Volgens die party gebeur dit gereeld dat die departement nie in staat is om dienste te lewer nie omdat sy stelsel van lyn af is. ʼn Woordvoerder van die DA, Angel Khanyile, sê hulle word oorval met oproepe van aansoekers wat oorsee wil reis, maar dit nie kan doen nie omdat hulle nog nie hulle paspoorte ontvang het nie:
# Die sakereddingspraktisyns van die landbou en agri-verwerkingsonderneming, Tongaat Hulett, sal volgende week oor veranderings en moontlike nuwe eienaarskap stem. Dit volg op ʼn bevel van die Hooggeregshof in Durban dat daar nie oor die vorige sakereddingsplanne in hulle huidige formaat gestem kan word nie. Die hof het beslis die sakereddingsproses wat beskerming teen krediteure verskaf, onthef Tongaat Hulett nie daarvan om nywerheidsbetalings te doen nie. Die vergadering sal die gewysigde planne bespreek en daaroor stem.
# Motorsport: Die uitmergelende Dakar-tydren begin môre in Saoedi-Arabië, met Nasser Al-Attiyah van Katar wat reg staan om sy derde agtereenvolgende titel en sesde altesaam in te palm. Die 46ste uitgawe van die ikoniese tydren bestaan uit ‘n tydtoets en 12 skofte en eindig op die 19de van die maand na sewe-duisend-891 kilometer. Suid-Afrika word verteenwoordig deur bestuurders soos Giniel de Villiers, Dennis Murphy, Gareth Woolridge, Boyd Dreyer, Guy Botterill, Brett Cummings, Hennie de Klerk, Juan Mohr en Saood Variawa.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 20-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-123-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-47-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-84-sent per vat.
# Ten slotte: ‘n Vrou wie se handsak gesteel is, het dit teruggekry, maar eers nadat dit 30 jaar later in Aberdeen in Skotland uitgespoel het. Die 81-jarige Audrey Hay sê haar handsak is by haar werkplek in die stad gesteel. Die dief het skynbaar die geld daaruit geneem en die handsak toe in die Don-rivier gegooi. ‘n Elfjarige meisie, Maisie Coutts, en haar ouers het Dinsdag naby die mond van die rivier gestap toe sy die handsak opmerk. Hulle het Hay se naam op ‘n kredietkaart in die handsak gevind en haar deur sosiale media opgespoor.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….