Nuus 15:00
BULLETIN 16 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering begin met ‘n program van 90-dae om die geslagsgeweldkrisis te beëindig
# Die DA eis die terugtrekking van omstrede rasreëls in aktekantore
# En Israel is nie van plan om die versperring van humanitêre hulp aan Gaza op te hef nie
# Die regering het ‘n versnellingsprogram van 90-dae van stapel gestuur om geslagsgeweld en vrouemoord hok te slaan. Die stap volg ná ‘n noodvergadering onder leiding van die minister van Justisie, Mmamoloko Kubayi, en die minister van Polisie, Senzo Mchunu. Planne sluit in die herlewing van die Tussenministeriële Komitee, die verbetering van provinsiale eenhede en die versterking van die regstelsel. ‘n Nasionale webinaar, die uitbreiding van die Thuthuzela-sorgsentrum en veiligheidsmaatreëls vir oorlewendes is reeds aan die gang. Die regering vra alle sektore en belanghebbendes om beslissend op te tree.
# Die DA eis die minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, Mzwanele Nyhontso, moet die nuwe rasreëls in aktekantore terugtrek. Die reëls vereis van eiendoms-oordragpartye om hul ras te verklaar of gevaar te loop dat hulle transaksie verwerp kan word. Die party voer aan hierdie regulasies maak inbreuk op privaatheidsregte en is ongrondwetlik. Die DA benadruk dit oortree die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting en ondermyn eiendomsreg. Hulle sal ‘n regsmening bekom om die reëls uit te daag.
# Die Oos-Kaapse LUR vir Vervoer, Xolile Nqatha, versoek inwoners en motoriste om versigtig te wees met die aanhoudende en ontwrigtende reën wat in die provinsie voortduur. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n vlak 5-weerwaarskuwing uitgereik vir swaar reën in die provinsie en KwaZulu-Natal. Die departement se woordvoerder, Unathi Binqose, sê die T12 tussen Maluti en Matatiele is een van die paaie wat oorstroom het:
# Israel se minister van Verdediging, Israel Katz, sê die land sal voortgaan om humanitêre hulp te verhoed in die oorloggeteisterde Gaza-strook, waar intense lug- en grondaanvalle hervat is. Hy sê dit is een van die belangrikste maatreëls om te verhoed dat Hamas dit as ’n instrument teen die bevolking gebruik. Die Verenigde Nasies het vroeër gewaarsku dat die gebied tans sy ernstigste humanitêre krisis beleef sedert die oorlog in Oktober 2023 begin het. Israel verhoed sedert 2 Maart dat hulp die gebied bereik.
# Sokker: Die middelveldspeler Jude Bellingham sê die tweede kragmeting in hul Kampioeneliga-kwarteindstryd teen Arsenal is ‘n geleentheid vir Real Madrid om te presteer. Die heersende Europese kampioen sal vanaand op die Bernabéu-stadion probeer om ‘n agterstand van 3-0 om te keer. Madrid het slegs een keer in sy geskiedenis van so ’n agterstand teruggeveg toe hulle Derby County in die 1975/76-seisoen 6–5 geklop het. Bellingham glo hulle kan nog ’n geskiedkundige ommekeer bewerkstellig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-86-sent teen die dollar, 21-rand-44-sent teen die euro en 25-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-984-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-299-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….