Nuus 15:00
BULLETIN 10 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Grensbestuursowerheid reik ‘n streng waarskuwing uit oor onwettige oorgange tydens Paasfees
# Transnet begin die proses om ‘n vennoot vir sy spoor-huurkontrakmaatskappy aan te stel
# En aandele wêreldwyd skiet die hoogte in nadat Trump ‘n opskorting van 90-dae op tariewe aankondig
# Die Grensbestuursowerheid het ‘n streng waarskuwing uitgereik teen onwettige grensoorgange tydens Paasfees. Sekerheid en toesig is verhoog, met onder meer die gebruik van hommeltuie. Die owerheid is daartoe verbind om onwettige bedrywighede af te weer en die veiligheid en sekerheid van alle reisigers te verseker. Die kommissaris, Michael Masiapato, het mense versoek om die grenswette na te kom en enige verdagte gedrag aan te meld:
# Transnet het ‘n versoek om kwalifisering begin om ‘n private vennoot te kies vir ‘n nuwe spoorweghuurkontrakmaatskappy, ‘LeaseCo’ wat gerig is op die lewering van spoorvoertuie aan privaat treinbedryfmaatskappye. Hierdie stap is deel van Suid-Afrika se spoorweghervormingsprogram, gemik op verbeterde mededingendheid en die aanmoediging van privaat sektorbeleggings. Dit kom te midde van pogings om die netwerk vir derdeparty-operateurs oop te stel, ondanks uitdagings soos netwerktoestande en tariefverhogings. Die versoek om kwalifisering sluit op 4 Julie.
# Aandele het vandag die hoogte ingeskiet nadat Donald Trump die ingrypende tariewe op Amerikaanse handelsvennote tydelik op ys geplaas het. Selfs Chinese beleggers het hulle nie gesteur aan sy besluit om tariewe op Beijing tot 125-persent te verhoog nie. Die res van die wêreld het ‘n skitterende vertoning op Wallstraat nagevolg nadat die Amerikaanse president gesê het hy sal die maatreëls wat verlede week aangekondig is, vir 90 dae uitstel. China se tariewe van 84-persent op Amerikaanse produkte het vandag in werking getree.
# Tennis: Jannik Sinner van Italië sal seker wees van sy nommer een-posisie op die wêreldranglys wanneer hy vroeg volgende maand terugkeer na sy opkikker-skorsing van drie-maande. Alexander Zverev van Duitsland se nederlaag teen Sinner se landgenoot, Matteo Berrettini, in die ronde van 32 in die Monte-Carlo-meesterstoernooi beteken dat hy Sinner nie kan verbysteek nie. Zverev kon in sy laaste ses toernooie nie verder as die kwarteindronde vorder nie. Die 23-jarige Sinner beplan om terug te keer in die Italiaanse Ope, wat op 5 Mei in Rome begin.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-45-sent teen die dollar, 21-rand-55-sent teen die euro en 25-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-494-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-117-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-67-sent per vat.
# En laastens, volgens ‘n ontleding van die 2025/26-konsepbegroting bied die Stad Kaapstad die laagste eiendomsbelastingkoerse vir handels-, nywerheids- en woonpersele. Die koers-in-rand is ʼn statutêre formule wat gebruik word om munisipale eiendomsbelasting te bereken. Die formule wys hoeveel ʼn persoon aan belasting sal betaal teenoor sy eiendom se waarde. Burgemeester Geordin Hill-Lewis sê die Stad Johannesburg se handels- en nywerheidspersele is 42-persent hoër, en woonpersele 33-persent:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….