Nuus 15:00
BULLETIN 9 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ondersoeke na die intuimeling van ‘n gebou in George dui op nie-nakoming van registrasieprosesse
# Ramaphosa waarsku geslagsgeweld is steeds Suid-Afrika se tweede pandemie
# En die EFF vra die beskerming van balju’s nadat twee vermoor is
# Forensiese ondersoeke na die intuimeling van ‘n gebou in George in Mei verlede jaar, het nie-nakoming in die registrasieproses aan die lig gebring. Die tragedie het 34 lewens geëis. Die minister van Menslike Nedersettings, Thembi Simelane, het die bevindings bekend gemaak. Sy sê daar was beduidende nie-nakoming van die Registrasiekantoor van die Nasionale Huisbouersreguleringsraad se registrasieprosedures. Simelane sê dit sluit kritieke oortredings van regulasies in, wat die kontrakteur in staat gestel het om die veelverdiepinggebou te bou sonder behoorlike registrasieprosesse:
# President Cyril Ramaphosa sê geslagsgeweld en vrouemoord word aangevuur deur patriargie, skadelike kultuurpraktyke en ‘n wydverspreide stilte in die samelewing. Ramaphosa het op die 17de tweejaarlikse konferensie van die Internasionale Vereniging van Vroueregters in Kaapstad, geslagsgeweld beskryf as die land se tweede pandemie. Hy voeg by baie vroue ly van voor af wanneer hulle probeer om geregtigheid te kry. Hy sê die gaping tussen wetgewing en die instelling daarvan wakker steeds geweld en straffeloosheid aan:
# Die GOOD-party sê dis noodsaaklik dat die regering deeglik oorweeg of dit nodig is om die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag in binnelandse situasies te ontplooi. Dit volg nadat die Weermag gister ontplooi is tydens die #JusticeForCweCwe-betogings in Matatiele in die Oos-Kaap. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê Suid-Afrikaners het die reg om te betoog en daar was geen aanduiding dat die betoging nie vreedsaam sou wees nie.
# Die EFF het die minister van Justisie, Mmamoloko Kubayi, en die minister van Polisie, Senzo Mchunu, gevra vir die beskerming van hofamptenare wat verantwoordelik is vir die betekening van dokumente. ‘n Balju in Mpumalanga, Andrew Shabalala, is verlede week voor sy kantoor doodgeskiet, en ‘n waarnemende balju van Limpopo, Thapelo Mojapelo, is ook vermoor. Daar was ook ‘n poging tot ‘n sluipmoord op die waarnemende balju in Vanderbijlpark, Pramodh Ora. Die EFF sê hierdie moorde verteenwoordig ‘n ontstellende en toenemende aanslag op die grondslag van die regstelsel.
# Rugby: Zintle Mpupha van die Springbok-sewes-vrouespan sê hulle is vasberade om hul momentum van die eerste twee toernooie van die Wêreld-sewes se Uitdaagreeks te behou. Suid-Afrika, wat tweede op die punteleer is, is in Pole vir die derde en laaste toernooi in die kompetisie. Die top-vier spanne staan ‘n kans om vir die laaste wêreldreeks-sewestoernooi van die seisoen te kwalifiseer wat vroeg volgende maand in Los Angeles plaasvind. Mpupha sê hulle is vol vertroue:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-73-sent teen die dollar, 21-rand-79-sent teen die euro en 25-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-415-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-54-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 59-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….