Nuus 15:00
BULLETIN 8 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Musk vra Trump om tariewe om te keer
# Die minister van Polisie gee ‘n uiteensetting van kritieke pro-aktiewe beleid om misdaad te bekamp
# En Kaapstad beplan vir 50-duisend bykomende inwoners in die middestad teen 2040
# Die miljardêr Elon Musk het glo vir Donald Trump gevra om sy tariewe om te keer. Washington Post verwys na twee bronne wat sê dis die grootste hoëprofiel-onenigheid tussen die uitvoerende hoof van Tesla en die Amerikaanse president. Dit volg op Trump se onthulling van ‘n basislyn-tarief van tien-persent op alle invoere en hoër heffings op talle lande. Musk, die hoof van die Departement vir Regeringsdoeltreffendheid, het voorheen reeds gevra vir geen tariewe tussen Amerika en Europa nie. Hy het aangedui die motortariewe het ‘n beduidende uitwerking op Tesla.
Terug in Suid-Afrika:
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, sê die polisieberaad van drie dae sal kritieke kwessies aanpak, insluitend doeltreffende wetstoepassing te midde van hulpbrontekorte, hoë misdaadsyfers en korrupsie, veral in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Oos- en die Wes-Kaap. Mchunu het kommer uitgelig oor toegang tot vuurwapens, georganiseerde misdaad en toenemende ontvoerings. Hy het die belangrikheid van pro-aktiewe wetstoepassing, misdaadintelligensie en die gebruik van tegnologie beklemtoon, terwyl korrupsie aangepak word en beamptes se welstand verbeter word:
# Die DA sê die koalisie tussen die ANC, die EFF en ActionSA in Tshwane se begrotingsbesnoeiings het die stad se kragkrisis vererger en gelei tot gereelde en langdurige onderbrekings. Die party beskuldig die burgemeester, Nasiphi Moya, se administrasie van befondsingsbesnoeiings vir streeksbedrywighede en die koördineringsafdeling, wat die elektrisiteitsherstelwerk behartig, ten gunste van verhoogde besteding aan watertenkwaens en privaat sekerheid. Cilliers Brink van die DA dring aan op onmiddellike optrede om te keer dat Tshwane dieselfde paadjie loop as Johannesburg:
# Kaapstad sal na verwagting teen 2040 moet plek maak vir ‘n bykomende 50-duisend inwoners in die middestad. ‘n Konsep-Plaaslike Ruimtelike Ontwikkelingsraamwerk is daarom ingestel om aan die vraag te voldoen. Dit sal fokus op die verbetering van beweeglikheid, optimale grondgebruik en meer ontwikkelings vir gemengde gebruik. Onder-burgemeester Eddie Andrews sê openbare deelname sal ‘n integrale deel van die plan wees om te verseker dis in ooreenstemming met die gemeenskap se behoeftes. Die stad ondersoek ook grootskaalse projekte soos Milkwood City om breër behuisingsuitdagings aan te pak.
# Rugby: Die All Black-haker Codie Taylor het sy spanmaats aangemoedig om ook sabbatsverlof te oorweeg en sê dis nodig om so lank moontlik op die hoogste vlak te kan speel. Hy het ‘n verposing van ses maande van toetsrugby geneem na 2023 se Wêreldbekertoernooi. Die ruskans vir sommige ervare All Blacks word gesien as ‘n belangrike hulpmiddel om talent te behou, aangesien oorsee-gebaseerde spelers nie vir die nasionale span mag speel nie. Taylor sê hy het nie klubrugby gespeel nie, maar gehalte-tyd saam met sy gesin deurgebring.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-45-sent teen die dollar, 21-rand-29-sent teen die euro en 24-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-266-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-13-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….