Nuus 15:00
BULLETIN 4 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Lamola sê Suid-Afrika sal Amerikaanse tariewe met veerkragtigheid en innovering hanteer
# Die Verenging van Staatsamptenare is uiters teleurgesteld omdat die 2025-begroting goedgekeur is
# En, Rusland sê spanning rondom Iran se kernprogram kan slegs deur diplomatieke optrede opgelos word
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika sal in reaksie op die nuwe Amerikaanse tariewe sy marktoegang uitbrei en wêreldwye alliansies versterk. Die regering beplan om handelsverhoudinge uit te brei, met die fokus op markte in Afrika, Asië en die Midde-Ooste. Lamola het op ‘n nuuskonferensie gesê Suid-Afrika sal ook gebruik maak van die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied om streekshandel te verbeter en om afhanklikheid van ‘n enkele mark te verminder wat tariefblootstelling sal verlaag:
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê hy is uiters teleurgesteld oor die goedgekeurde 2025-begroting, wat die omstrede voorgestelde verhoging in Belasting op Toegevoegde Waarde insluit. Die vakbond sê hierdie besluit is geneem sonder voldoende raadpleging met sleutelbelanghebbendes en hou ernstige gevolge in vir Suid-Afrika se werkersklas en kwesbare gemeenskappe. Claude Naiker van die vakbond sê hulle bepleit doeltreffendheid, wat bereik kan word met die behoorlike toewysing van hulpbronne:
# Rusland sê spanning rondom Iran se kernprogram kan slegs “diplomaties” opgelos word en het vir “selfbeheersing” gevra, nadat Amerikaanse president Donald Trump gedreig het om Iran met bomme aan te val as hy kernwapens ontwikkel. Die Kremlin se woordvoerder, Dmitry Peskov sê alle partye moet selfbeheersing toon en op diplomatieke pogings fokus. Trump het in 2018 die VSA uit ‘n ooreenkoms onttrek wat sanksies teen Teheran verlig het in ruil vir die beperking van Iran se kernprogram.
# Rugby: Die Leeus, Bulle, en Haaie speel hierdie naweek in die kwarteindrondte van die Uitdaagbeker. Die Leeus het ‘n opdraande-stryd wanneer hulle 9-uur vanaand teen Edinburgh in Skotland speel. Môremiddag om half twee is die Bulle in Frankryk om teen Bayonne te speel. Die Haaie moet wag tot Sondagaand wanneer hulle om halfsewe teen Lyon ook in Frankryk speel. Die Haaie is die verdedigende kampioene.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand teen die dollar, 20-rand-1-sent teen die euro en 24-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-924-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-127-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-75-sent per vat.
# En laastens, Elton John het sy nuwe album beskryf as die “varsste” sedert die albums wat in die 1970’s opgeneem is. “Who Believes in Angels?” word vandag uitgereik. Die ateljee-album volg nadat hy sy glansryke sangloopbaan met ‘n wêreldwye afskeidstoer beëindig het, wat in Julie 2023 in Swede ten einde geloop het. “Who Believes in Angels?” is in samewerking met die Amerikaanse sanger Brandi Carlile en John se jare-lange mede-liedjieskrywer, Bernie Taupin, opgeneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….