Nuus 15:00
BULLETIN 3 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ekonoom waarsku Trump se tariefverhogings sal wêreldhandel ontwrig
# TLU SA sê Amerikaanse landbouverteenwoordigers beklemtoon die behoefte aan wederkerige handel
# En wetenskaplikes ontwikkel ‘n pasaangeër so groot soos ‘n ryskorrel
# ‘n Ekonoom aan die Noordwes Universiteit se Sakeskool, Raymond Parsons, sê die Amerikaanse president, Donald Trump, se aankondiging oor hoër tariewe sal die wêreldekonomie ontwrig, met negatiewe gevolge vir Suid-Afrika. Parsons waarsku die tariewe kan lei tot hoër inflasie, stadiger wêreldgroei en die gevaar van ‘n resessie in sommige ekonomieë. Hy voeg by die Suid-Afrikaanse ekonomie staan voor ‘n moeilike uitdaging, veral in die motorsektor, met ‘n 30-persent tarief op plaaslike goedere. Hy moedig die regering aan om nuwe handelsmarkte soos die Afrika-vryhandelsooreenkoms te verken.
Die landbou-organisasie TLU SA sê intussen verteenwoordigers van die Amerikaanse Departement van Landbou het beklemtoon dat wederkerige handel in landbouprodukte albei lande se boerderygemeenskappe bevoordeel. TLU SA het gister ‘n belangrike bespreking gehad met verteenwoordigers wat in Suid-Afrika gebaseer is. Bennie van Zyl van die organisasie sê die uitwerking van die Grondonteieningswet en die onsekerheid wat dit veroorsaak, asook die werklikheid van plaasaanvalle en -moorde is in diepte bespreek:
# ActionSA sê die DA is ten volle binne sy reg om regstappe in te stel teen die voorgestelde BTW-verhoging. Die party sê hoewel hy nie met die benadering saamstem nie, erken hy regsmetodes kan in ‘n grondwetlike demokrasie toegepas word. Hy het met verskeie partye in gesprek getree, insluitende die DA, die MK-party en die EFF, om die belastingverhogings te keer. Athol Trollip van ActionSA hou vol die belangrikste voorkeur moet wees om die ongeregverdigde belastingverhogings te stop, terwyl verantwoordelike regeringsbesteding verseker word:
# Krieket: Punjab Kings se kolwers sê hulle nuwe afrigter, Ricky Ponting, het reeds ‘n positiewe uitwerking op vanjaar se Indiese Premierliga. Die span is tans boaan die punteleer nadat hy albei sy eerste twee wedstryde gewen het. Punjab het in September ‘n vierjaar-kontrak met die voormalige Australiese kaptein gesluit nadat hulle verlede seisoen negende geëindig het. Die kolwer Nehal Wadhera sê Ponting is een van die beste afrigters met wie hy nog gewerk het, want hy is positief, wat outomaties die spelers se vertroue verhoog.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-87-sent teen die dollar, 20-rand-84-sent teen die euro en 24-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-199-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-93-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-4-sent per vat..
# En laastens, wetenskaplikes sê hulle het die wêreld se kleinste pasaangeëer ontwikkel. Dit is ‘n tydelike polsslag-reguleerder wat kleiner as ‘n ryskorrel is. Dit word ingespuit en deur lig beheer voor dit oplos. Terwyl dit nog jare is voor menslike toetse moontlik is, word die draadlose hartklopapparaat beskou as ‘n vernuwende deurbraak wat vooruitgang in ander mediese gebiede kan bevorder. Die span, wat deur Amerikaanse navorsers gelei word, sê hulle is gemotiveer om die een-persent kinders te help wat met aangebore hartafwykings gebore word, en ‘n tydelike hartklopapparaat nodig het in die week na chirurgie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….