Nuus 15:00
BULLETIN 30 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Amabutho sluit aan by betogers in King Dinuzulu-park in Durban
# Mbeki beskuldig Ramaphosa dat hy wanbegrippe oor onwettige migrasie aanhits
# En tennis: Serena Williams keer vandag terug na Wimbledon
# Tradisionele Zoeloe-krygerregimente, bekend as Amabutho, het aangesluit by betogers wat in King Dinuzulu-park in Durban vergader voor ‘n optog teen onwettige immigrante. Die betogers ruk op na die stad onder swaar polisieteenwoordigheid, met owerhede wat die situasie dophou om te verseker dit bly vreedsaam. Beamptes het deelnemers gevra om binne die wet te betoog en waarsku intimidasie, geweld en eiereg sal nie geduld word nie.
Oudpresident Thabo Mbeki beskuldig president Cyril Ramaphosa intussen dat hy wanvoorstellings oor onwettige migrasie aanhits. Ramaphosa sê onbeheerde onwettige migrasie skep veiligheidsgevare en is ‘n las op gesondheidsdienste. Mbeki sê dis net bespiegelings dat onwettige migrante die oorsaak is van hoë werkloosheidsvlakke, misdaad en gebrek aan ekonomiese groei en word nie deur bewyse ondersteun nie. Hy waarsku dat negatiewe gevoelens teen migrante Afrika-eenheid bedreig en die aandag aftrek van die strukturele oorsake van Suid-Afrika se politieke en ekonomiese probleme.
# Die Suid-Afrikaanse Petroleumkleinhandelaarsvereniging verwelkom die skerp brandstofprysdalings vanaf middernag en sê dit sal verligting bring vir motoriste en ondernemings, maar waarsku verbruikers se finansiële druk bly steeds ‘n bron van kommer. Petrol- en dieselpryse sal aansienlik daal, wat korttermynverligting bied ná maande se druk op huishoudings. Woordvoerder Vishal Premlall sê verbruikersvertroue bly swak te midde van stygende lewenskoste en ekonomiese onsekerheid:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Ivan Meyer, het belanghebbendes aangespoor om voorkeur te gee aan die oplossing van bedryfsuitdagings op die Kaapstadse hawe voor die nuwe uitvoerseisoen. Daar word geraam dat ongeveer 55-duisend ton tafeldruiwe herlei is weens bedryfs-uitdagings op die hawe gedurende die vorige spits-uitvoerperiode. Meyer sê sulke wegwysings plaas ernstige finansiële druk op produsente en uitvoerders as gevolg van verhoogde logistieke en vervoerkoste:
# Tennis: Daar is groot afwagting vir die gewese wêreld-nommer-een, Serena Williams, se eerste beroeps-enkelspelwedstryd in langer as vier jaar. Die 44-jarige Amerikaner speel teen die wêreld-nommer-87, Maya Joint van Australië, in die eerste ronde van Wimbledon. Vandag se kragmeting is haar eerste enkelspelwedstryd sedert sy in 2022 in die derde ronde van die Amerikaanse Ope uitgeskakel is. Williams het haar 23ste en laaste Grand Slam-titel in 2017 op die Australiese Ope gewen. Sy het vroeër die maand teruggekeer en sedertdien twee dubbels-wedstryde gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 18-rand-65-sent teen die euro en 21-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-72-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-29-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 73-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….