Nuus 15:00
BULLETIN 2 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die omstrede Nigeriese televisie-evangelis Timothy Omotoso word vrygespreek op alle aanklagte
# Die Parlement lê die satellietkommunikasiestrategie aan die kabinet voor
# En 30-duisend atlete van 89 lande gaan die naweek in Kaapstad deelneem aan die Twee Oseane-marathon
# Die Hooggeregshof in Gqeberha het die Nigeriese televisie-evangelis, Timothy Omotoso, en sy medebeskuldigdes, Lusanda Sulani en Zukiswa Sitho, onskuldig bevind op 32 aanklagte, insluitend verkragting, seksuele aanranding en mensehandel. Volgens berigte sal Omotoso waarskynlik gedeporteer word ná sy vryspraak. Regter Irma Schoeman het uitspraak gelewer in die saak, wat agt jaar lank geduur het:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Wetenskap, Tegnologie en Innovering het die satellietkommunikasiestrategie aan die kabinet voorgelê vir goedkeuring om vir openbare kommentaar te publiseer. Die adjunkminister, Nomalungelo Gina, het die rol van internetverbinding in werkskepping en ekonomiese groei uitgelig. Die strategie het ten doel om ‘n plaaslike satellietstelsel te vestig, wat die afhanklikheid van buitelandse verskaffers sal verminder. Amptenare beklemtoon hoe dringend die inwerkingstelling is om digitale insluiting, noodsaaklike dienste en nasionale veiligheid te bevorder. ‘n Nasionale slypskool sal gehou word om sleutelkwessies te bespreek.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik eis dringende optrede van die minister van Vervoer, Barbara Creecy, oor die voortslepende agterstand met die uitreiking van rybewyse, en dreig regstappe sal volg as die regering nie optree nie. Hulle vra die verlenging van rybewyse tot tien jaar, die onmiddelike herstel van die land se enigste kaartdrukker en duidelikheid oor die gekanselleerde tender. OUTA se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage, sê motoriste ly as gevolg van die gebrek aan optrede, en eis deursigtigheid en oplossings:
# Padwedlope: Die Stad Kaapstad sê meer as 30-duisend atlete sal die naweek aan die 54ste Twee Oseane-marathon deelneem. Saterdag se ultra-marathon strek oor 56-kilometer van Nuweland tot by die Universiteit van Kaapstad aan die voet van Tafelberg. Die half-marathon van 21,1-kilometer vind Sondag plaas. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê 89 lande sal verteenwoordig word:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-63-sent teen die dollar, 20-rand-12-sent teen die euro en 24-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-988-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-118-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-98-sent per vat.
# En laastens, onlangse navorsing deur Australiese wetenskaplikes het bevind die gemiddelde persoon se inkomste kan met 40-persent daal indien temperature wêreldwyd met vier-grade-Celsius styg. Die Bruto Binnelandse Produk kan selfs met 16-persent daal indien temperature met selfs net twee-grade-Celsius styg, wat baie meer is as vorige ramings. Hulle het bevind tradisionele modelle het die finansiële uitwerking van klimaatsverandering onderskat en die ontwrigting van wêreldwye verskaffingskettings misgekyk. Navorsers versoek onmiddellike optrede om ernstige ekonomiese gevolge wêreldwyd af te weer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….