Nuus 15:00
BULLETIN 28 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Macpherson kondig vordering aan in die stryd teen die boubedryf-mafia
# Ramaphosa stel ‘n nuwe slim lidmaatskapskaart vir die ANC bekend
# En ActionSA dreig met regstappe oor Phil Craig se burgerskap
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het bevestig dat daar beduidende vordering gemaak is in die bekamping van die boubedryf-mafia. Hy het op ‘n nuuskonferensie bekend gemaak dat inhegtenisnemings styg en vertragings met bouwerk teengewerk word. Die minister het bevestig dat hervormings bespoedig word, insluitend die swartlys van nie-presterende kontrakteurs sedert die ondertekening van die Durbanse Verklaring verlede jaar. Hy het ook die infiltrasie van mafiabedrywighede in sekerheidsmaatskappye beklemtoon:
# ANC-president, Cyril Ramaphosa, het ‘n nuwe slim lidmaatskapskaart bekendgestel, wat ontwerp is om die party se interne prosesse te versterk. Die kaart vorm deel van die party se pogings om sy bedrywighede te moderniseer en te versterk, en daar word beplan om gevorderde tegnologie soos kunsmatige intelligensie in te sluit. Ramaphosa het op die eerste dag van die nasionale uitvoerende komitee se vergadering in Boksburg gesê hierdie veranderings sal die integriteit van die party versterk:
# Lerato Ngobeni van ActionSA het met regstappe gedreig indien burgerskap toegestaan word aan die leier van die Cape Independence Advocacy Group, Phil Craig. Ngobeni het die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, versoek om Craig se aansoek af te keur, en sê hy voldoen nie aan wettige vereistes nie. Craig, wat in Britanje gebore is, bepleit Wes-Kaapse onafhanklikheid. Craig wil volgende maand Amerikaanse diplomatieke steun aanvra. Ngobeni sê Craig se standpunt is ‘n ondermyning van nasionale eenheid:
# Die nuwe JRC Advance-verslag oor veldbrande in Europa, die Midde-Ooste en Noord-Afrika toon dat Oekraïne in 2024 die ergste veldbrandseisoen in die geskiedenis van die Europese Unie se veldbrand-inligtingstelsel beleef het. Byna een-miljoen hektaar het in dié land afgebrand. Volgens die verslag kom die ruimtelike verspreiding van die brande ooreen met die oorlogsfront tussen Oekraïne en Rusland. Intussen was 2024 sedert 2017 ook die ergste veldbrandjaar in Portugal, waar 147-duisend hektaar afgebrand het.
# Rugby: Suid-Afrika het Uruguay oortuigend met 40-7 geklop in hulle openingswedstryd in die Sewes-wêreldreekstoernooi in Hongkong. Die Blitsbokke het rustyd 19-0 voorgeloop na drieë deur Siviwe Soyizwapi, Quewin Nortjé en Shilton van Wyk. Hulle het in die tweede helfte nog vier drieë aangeteken terwyl hulle teenstanders slegs een troosdrie kon aanteken. Die Blitsbokke speel later vandag teen Australië, en môreoggend teen Nieu-Seeland in hul laaste wedstryd in Groep B. Die kwarteindronde word later môre gespeel en die halfeindronde en eindstryd Sondag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-858-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-77-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….