Nuus 15:00
BULLETIN 26 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ministers Steenhuisen, Mchunu en Godongwana is onder skoot omdat hulle parlementêre vrae ignoreer het
# NSFAS vra verblyf-verskaffers met uitstaande betalings om nie studente uit te skop nie
# En sokker: Bafana kan Wêreldbeker-kwalifiseringspunte verloor omdat ‘n speler onwettig gebruik is
# Verskeie ministers, insluitend die minister van Polisie, Senzo Mchunu, die minister van Finansies, Enoch Godongwana, en die DA-leier en minister van Landbou, John Steenhuisen, is onder skoot omdat hulle nie parlementêre vrae beantwoord het nie. ‘n Verslag deur die Parlement toon 222 van die 783 vrae is steeds onbeantwoord. Mchunu het 47 van die 74 vrae wat aan hom gerig is, geïgnoreer, Godongwana het 15 uit 30 vrae nie beantwoord nie, en Steenhuisen het reageer op slegs ses uit 17 vrae. Die EFF veroordeel die ministers en vra salarisaftrekkings en openbare teregwysings.
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente sê hy is diep bekommerd oor berigte van sekere eienaars van verblyfplekke wat dreig om studente uit te skop, terwyl daar gesprekke plaasvind om gemoedelike oplossings vir verblyfbetalings te vind. NSFAS se woordvoerder, Ishmael Mnisi, sê die skema versoek verhuurders met uitstaande betalings om nie die studente uit te sit nie aangesien NSFAS daartoe verbind is om alle wettige eise op te los. Mnisi sê dit is noodsaaklik om die uitwerking van uitsettings op studente sowel as verhuurders in ag te neem:
# Die onderwysersvakbond Sadou vra die Departement van Basiese Onderwys om sekerheidsmaatreëls by skole te versterk om ontvoerings en aanvalle op onderwysers te voorkom, terwyl skole al hoe meer sagte teikens vir misdadigers word. Drie mans het ‘n 45-jarige onderwyseres van die Spesiale Skool Happydale in Algoapark, Gqeberha, gewelddadig ontvoer terwyl sy haar motor by die skool geparkeer het. Sadou se woordvoerder, Nomusa Cembi, sê skole moet ‘n toevlugsoord wees:
# Sokker: Bafana Bafana se voorsprong van vyf punte boaan Afrika se Wêreldbeker-kwalifiseringsgroep mag verminder word nadat hy verlede week ‘n speler onwettig gebruik het teen Lesotho. Teboho Mokoena het reeds twee geel kaarte ontvang, wat ‘n outomatiese skorsing van een wedstryd beteken. Die beheerliggaam, SAFA, het erken dat hy in 2023 teen Benin gewaarsku is en weer verlede jaar teen Zimbabwe. Die reëls van die wêreldbeheerliggaam, FIFA, bepaal egter die teenstander moet ‘n klagte indien binne 24-uur na die wedstryd, wat Lesotho blykbaar nie gedoen het nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-68-sent teen die euro en 23-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-236-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-28-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-1-sent per vat.
# En laastens, Suid-Afrika het die hoogste posisie op ‘n nuwe globale eiendomsdeursigtigheids-aanwyser behaal, maar sukkel steeds met uitdagings in die stryd teen geldwassery. Die Opacity in Real Estate Ownership Index, wat deur Transparency International en die Anti-Corruption Data Collective vrygestel is, toon dat Suid-Afrika goed presteer in die regulering van eiendomstransaksies. Toegang tot eiendomsrekords bly egter steeds beperk. Lande soos Amerika, Australië en Suid-Korea presteer intussen swak weens swak regulasies. Transparency International vra strenger globale hervormings om skuiwergate toe te maak om te verhoed dat onwettige geld in eiendomsmarkte invloei.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….