Nuus 15:00
BULLETIN 20 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering praat met Johannesburg oor die hernoeming van Sandton-rylaan te midde van diplomatieke sensitiwiteit
# Vier mense sterf en drie word beseer tydens vermeende taxi-geweld in die Johannesburgse middestad
# En motorsport: Formule Een het verlede jaar byna 90-miljoen aanhangers bygekry
# Die woordvoerder van die Presidensie, Vincent Magwenya, het bevestig dat die regering weens diplomatieke sensitiwiteit met die Stad Johannesburg gesprek voer oor die voorgestelde hernoeming van Sandton-rylaan na die Palestynse politikus Leila Khaled. Dit volg nadat Amerika kommer uitgespreek het oor die naamsverandering. Magwenya het op ‘n nuuskonferensie gesê die proses moet regsprosedures en openbare raadpleging volg terwyl internasionale betrekkinge versigtig bestuur moet word:
# ActionSA sê die regering van nasionale eenheid is nie ernstig oor die befondsing van plaaslike regering nie, waar gewone burgers daagliks die grootste krisisse beleef. Met die uitsluiting van die nasionale regering se toelaetoekennings, het plaaslike regerings in 2024/’25 4,7-persent van die totale befondsing ontvang, terwyl die bedrag dié jaar effens afgeneem het na 4,6-persent. Die nasionale voorsitter van ActionSA, Michael Beaumont, sê die oorsake van die mislukking strek wyer as die kwessie van befondsing en sluit swak leierskap, slegte bestuur en korrupsie in:
# Vier mense is doodgeskiet en drie beseer toe ‘n groep gewapende mans by ‘n taxi-staanplek in die middestad van Johannesburg losgebrand het. Een van die beseerdes is ‘n universiteitstudent wat vir ‘n bus gewag het. Polisiewoordvoerder Dimakatso Nevhuhulwi sê ook drie mense is gister dood in ‘n soortgelyke voorval by die Zonkizizwe-taxistaanplek, wat kommer oor taxigeweld laat ontstaan:
# Motorsport: Formule Een het verlede jaar byna 90-miljoen aanhangers bygekry, hoofsaaklik uit China toe ‘n Grand Prix teruggekeer het vir die eerste keer sedert die Covid-19-pandemie. Inligting deur Nielson Sports onthul 826,5-miljoen mense het die sport verlede jaar op renbane of aanlyn dopgehou, wat 12-persent meer was as in 2023. Dit sluit ‘n styging van 39-persent in China in. ‘n Rekord-aantal van meer as 465-duisend mense het verlede naweek se eerste Grand Prix van die seisoen in Melbourne, Australië, bygewoon. Die skouspel verskuif die naweek na Shanghai.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-226-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-32-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-51-sent per vat.
# En ten slotte: Google South Africa het 2,5-miljard-rand belê en sy heel eerste wolkstreek in Johannesburg bekendgestel. Die nuwe wolkstreek sal Suid-Afrika met Google Cloud se wêreldnetwerk verbind en toegang tot topvlak-dienste vir plaaslike ondernemings verbeter. Die projek sal na verwagting byna 40-miljard-rand by die land se bruto binnelandse produk voeg en teen 2030 meer as 40-duisend werksgeleenthede skep. Google sê hy ondersteun ook nuwe Afrika-ondernemings deur inisiatiewe soos die Black Founders Fund en Google for Startups Accelerator en help om 4,7-miljard-rand in te samel en meer as twee-duisend-800 werksgeleenthede in Afrika te skep.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….