Nuus 15:00
BULLETIN 18 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# DA open aansoeke vir burgemeesterskandidate in vier metro’s vir volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing
# Die GOOD-party eis optrede oor die dagga-beleid
# En sokker: Messi gaan Argentinië se volgende twee Wêreldbeker-kwalifiseerders misloop
# Die DA het die eerste ronde van die aansoekproses oopgestel vir diegene wat in volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing as burgemeesterskandidate oorweeg wil word. Kandidate vir Johannesburg, Ekurhuleni, Tshwane en Mangaung kan nou aansoek doen, met die sluitingsdatum die einde van die maand. Aansoeke vir die ander metro’s en munisipaliteite sal ná die eerste ronde oopgestel word. Die party sê hy soek na die heel beste kandidate vir hierdie noodsaaklike leiersrolle.
# Die GOOD-party versoek president Cyril Ramaphosa om die Nasionale Dagga-meesterplan te versnel en die verbod op eetbare produkte te stop. Die party voer aan beleidsonsekerheid bedreig die lewensbestaan van byna een-miljoen mense, met tradisionele vervaardigers wat uitgesluit word en slegs ‘n paar gelisensieerde ondernemings wat daarby baat. Brett Herron van die party sê die verbod op eetbare dagga sal nie veiligheid verseker nie en hy moedig eerder regulering aan. Hy waarsku teenstrydige beleide belemmer groei in die bedryf:
# Die Wêreldbank het kommer uitgespreek oor die wêreldwye onvoldoende besteding aan kritieke waterinfrastruktuur. Water Global se direkteur, Saroj Kumar Jha, het op die 14de Internasionale Waterverenigingskonferensie in Kaapstad gevra vir groter beleggings om langtermyn watersekerheid te verseker. Hy waarsku sonder voldoende befondsing sal baie lande ernstige watertekorte ondervind te midde van klimaatsverandering en bevolkingsgroei, wat die ekonomie en lewensbestaan beïnvloed:
# Sokker: Die Argentynse superster Lionel Messi is beseer en sal sy land se volgende twee Wêreldbeker-kwalifiseerders misloop. Die 37-jarige Messi het die naweek ‘n liesbesering opgedoen in ‘n wedstryd vir sy span, Inter Miami, teen Atlanta. Argentinië sal vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi kwalifiseer as hulle Vrydag vir Uruguay klop en volgende Dinsdag vir Brasilië. Die verdedigende kampioen het ‘n voorsprong van vyf punte boaan Suid-Amerika se kwalifiseringsgroep van tien spanne. Die top ses kwalifiseer regstreeks vir die toernooi in Kanada, Amerika en Mexiko.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-5-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-697-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-24-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-54-sent per vat.
# En laastens, die Geregtelike Inspektoraat van Korrektiewe Dienste, gaan met die ondersteuning van die Berthasentrum, ‘n borgtogfonds bekendstel om aangehoudenes te help wat nie borgtog kan bekostig nie. Meer as twee-duisend-600 verhoorafwagtende gevangenes bly agter tralies omdat hulle nie borgtog van minder as een-duisend-rand kan betaal nie. Regter Edwin Cameron het aan Newzroom Afrika gesê die fonds beoog om armoedsgedrewe aanhouding en samedromming te pak. Hy beklemtoon die projek se onafhanklikheid, en die fokus op lae-risiko oortreders met minder ernstige oortredings:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….