Nuus 15:00
BULLETIN 17 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa beloof 10-miljard-rand vir vroeë kinderontwikkeling oor drie jaar
# KZN premier sê meer fondse is nodig om infrastruktuur te herstel wat in vloede beskadig is
# En, VF Plus sê sindikate vernietig Tshwane se elektrisiteitsinfrastruktuur
# President Cyril Ramaphosa sê die regering het onderneem om oor die volgende drie-jaar tien-miljard-rand te belê in vroeë-kinderontwikkeling, met die fokus op universele toegang. Die befondsing sal sentrums ondersteun en jong kinders se grondslagvaardighede verbeter. Ramaphosa het tydens sy hoofrede op die Bana Pele-beraad in Johannesburg, sakeleiers, die regering en die burgerlike samelewing aangemoedig om hande te vat om toegang tot gehalte vroeë-kinderontwikkeling uit te brei:
# Die premier van KwaZulu-Natal, Thamsanqa Ntuli, sê die aanhoudende gure weerstoestande in die provinsie het aansienlike skade aangerig. Gesinne is ontwortel en infrastruktuur is beskadig. Die provinsiale regering werk saam met rampbestuurspanne en belanghebbendes om onmiddellike noodlenigingspogings te verseker, insluitend noodskuiling, kos en mediese bystand vir diegene wat geraak is. Ntuli sê die regering benodig meer geld om infrastruktuur te herstel:
# Die Vryheidsfront Plus in Tshwane sê meer moet gedoen word om die metro se kraginfrastruktuur te beskerm. Kabeldiewe was onlangs in buurte in Pretoria Moot bedrywig en het huishoudings dae lank sonder krag gelaat. Die VF Plus se woordvoerder, Mari Joubert, sê die gebiede wat die ergste deurgeloop het, is Rietfontein, Gezina, Capitalpark en Wonderboom-Suid:
# Krieket: Die Internasionale Krieketraad se ontluikende speler van die jaar, Annerie Dercksen, het haar eerste nasionale kontrak met Krieket Suid-Afrika losgeslaan. Die 23-jarige vervang Lara Goodall and Delmi Tucker op die lys van 15 gekontrakteerde spelers. Onder die ander spelers wat vir die 2025/’26-seisoen gekontrakteer is, is kaptein Laura Wolvaardt, Ayanda Hlubi, Sinalo Jafta, Ayabonga Khaka, Suné Luus and Anneke Bosch. Die Proteas-vroue berei voor vir ‘n belangrike jaar wat sy hoogtepunt bereik met die eendag-Wêreldbekertoernooi wat in Oktober in Indië begin.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-11-sent teen die dollar, 19-rand-75-sent teen die euro en 23-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-513-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-14-sent per vat.
# En ten slotte: Die uitvoerende hoof en adjunk-groepshoof van Standard Bank Suid-Afrika, Kenny Fihla, het ná 18 jaar bedank. Fihla is van vandag met afwesigheidsverlof en begin op 17 Junie in die rol van uitvoerende hoof en uitvoerende direkteur van die Absa-groep en Absa Bank, onderhewig aan regulatoriese goedkeuring. Standard Bank sê dit was ‘n voorreg om gebruik te maak van Fihla se unieke ervaring en wysheid in sake, regering en die arbeidsbeweging.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….