Nuus 15:00
BULLETIN 11 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Parlementêre komitee dring aan op deursigtigheid in gesprekke rakende die sluiting van ArcelorMittal se aanlegte
# Die EFF sê nee vir ‘n BTW-verhoging
# En Arabiese state veroordeel Israel se besluit om kragtoevoer na Gaza af te sny
# Die Parlement se gekose komitee oor Ekonomiese Ontwikkeling en Handel vra die regering vir deursigtigheid rakende die voortgesette samesprekings met ArcelorMittal Suid-Afrika oor die sluiting van sy langstaal-aanlegte. Die komitee se voorsitter, Sonja Boshoff, beklemtoon drie-duisend-500 poste is in gevaar oor die beplande sluitings in Newcastle en Vereeniging, wat ‘n uitwerking sal hê op werkers en klein ondernemings wat afhanklik is van die onderneming. Sy eis ‘n volledige verslag van die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging.
# Die EFF sê hy verwerp ‘n voorgestelde kleiner verhoging in die BTW-koers, sowel as die voorstel om die toelaag vir maatskaplike noodhulp te sny as alternatief sodat die toelaag kan voortgaan. Die EFF se woordvoerder, Thembi Msane, sê die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Edward Kieswetter, het voorgestel 800-miljard-rand kan ingevorder word indien die Nasionale Tesourie belê in die verbetering van belastinginvordering. Sy sê dit is baie meer as die 58-miljard-rand wat ‘n verhoging in BTW sal inbring:
# Saoedi-Arabië, Katar en Jordanië het Israel se besluit veroordeel om die kragtoevoer na die oorloggeteisterde Gaza-strook af te sny en vra die internasionale gemeenskap om op te tree. Israel het Sondag aangekondig hy gaan die enigste kraglyn na ‘n ontsoutingsaanleg in Gaza ontkoppel in ‘n poging om druk op die Palestynse militantegroep Hamas te plaas sodat hulle gyselaars kan vrylaat, te midde van ‘n oënskynlike dooiepunt in skietstakingsonderhandelings. Katar se ministerie van Buitelandse Sake sê Israel se optrede is ‘n blatante skending van internasionale humanitêre reg.
# Rugby: Die Britse en Ierse Leeus se toerspan na Australië sal vroeg in Mei in Londen aangekondig word. Die toeriste sal van 28 Junie tot 2 Augustus drie toetse teen die Wallabies speel, asook ‘n verdere ses wedstryde. Die Leeus het Australië 2-1 geklop gedurende hulle vorige besoek in 2013. Daarna het hulle in 2017 die reeks met die All Blacks gedeel en in 2021 2-1 teen die Springbokke verloor. Die toeriste besoek al sedert 1888 elke vier jaar om die beurt die drie suidelike halfrondlande.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-787-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-912-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 69-dollar-79-sent per vat.
# En ten slotte: Die Ungasali jaarlike Storievertelfees in Pretoria het deelname vir vanjaar uitgebrei na G20-lande. Die tema is: Youth Echoes: Shaping Global Futures Through Stories. Die fees, wat tradisionele en moderne storievertel saamvoeg met musiek- en teatervertonings, word Saterdag in Vryheidspark gehou. Die park se uitvoerende hoof, Jane Mufamadi, het aan die SABC gesê die fees is belangrik vir die bevordering van erfenis en maatskaplike samehorigheid:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….