Nuus 15:00
BULLETIN 10 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Schreiber versoek die OVK om stemstelsels te belyn met Binnelandse Sake se nuwe digitale planne
# Die DA eis duidelikheid oor die Gautengse Gesondheidsdepartement se regsbesparings van 7,1-miljard-rand
# En Pierce Brosnan sê die nuwe James Bond moet beslis ‘n Brit wees
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, het die Verkiesingskommissie versoek om sy stelsels aan te pas om dit te belyn met die departement se digitale transformasiepogings. Hy het op die OVK se konferensie oor elektroniese stemtegnologie in Kaapstad planne uiteengesit om slim identiteitskaarte uit te brei, teen 2029 digitale ID’s bekend te stel en die nasionale bevolkingsregister op te gradeer. Hy sê digitale stelsels moet die stemproses vereenvoudig, doeltreffendheid verbeter en openbare vertroue in verkiesings versterk:
# Die DA in Gauteng eis antwoorde vanaf die Gesondheidsdepartement oor hoe hy mediese regsaanspreeklikhede met 7,1-miljard-rand kon verminder het. Die departement sê 803 gevalle is onaktief verklaar of ingevolge wetsbepalings in die argief geplaas. Baie van die gevalle behels eise van mense met serebrale gestremdheid wat lewenslank sorg vereis. Die DA-lid, Madeleine Hicklin, dring aan op deursigtigheid en vra ‘n volledige lys van die betrokke sake. Sy bepleit ‘n professionele regstrategie om eise regverdig te hanteer en bedrog te voorkom:
# Solidariteit sê die regulasies van die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering wat onlangs in die Staatskoerant gepubliseer is, hou rampspoedige gevolge vir die gesondheidsorgstelsel in. Die vakbond glo dit ondermyn die regte van mediese beroepslui, bedreig privaat gesondheidsorg en sal in die lange duur dienslewering verswak. Solidariteit glo die NGV is onwerkbaar en finansieel onvolhoubaar. Woordvoerder Theuns du Buisson sê raadsaanstellings vir die NGV is nutteloos, want daar sal nooit genoeg geld wees om die stelsel te befonds nie:
# Krieket: Harry Brook van Engeland kan moontlik vir twee jaar uit die Indiese Premierliga geskors word nadat hy aan vanjaar se toernooi onttrek het. Dis die tweede agtereenvolgende jaar dat hy voor die kompetisie onttrek. Die 26-jarige Brook het verlede jaar ‘n kontrak met Delhi Capitals onderteken, maar sê hy het tyd nodig om te herstel ná die besigste tyd van sy loopbaan. Brook is ʼn gunsteling om Jos Buttler as Engeland se witbalkaptein te vervang nadat hulle in die groepfase van die Kampioene-trofee uitgeskakel is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-28-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-456-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-899-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-44-sent per vat.
# En laastens, die akteur Pierce Brosnan sê dit is voor die hand-liggend dat die volgende James Bond Brits behoort te wees. Die voormalige Bond het ook aan Sunday Telegraph gesê dit was die regte besluit vir die konsessie om skeppende beheer te oorhandig aan Amazon. Die keuse van Daniel Craig se opvolger sal deur Amazon MGM Studios bepaal word. Die laaste fliek in die konsessie, No Time To Die in 2021, was Craig se laaste. Brosnan was die ster in vier Bond-rolprente, van 1995 se GoldenEye tot Die Another Day van 2002.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….