Nuus 15:00
BULLETIN 7 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Beurtkrag keer die naweek terug
# Oekraïne se president besoek Suid-Afrika volgende maand
# En tennis: Beroepsvroue-spelers kwalifiseer nou vir betaalde kraamverlof
# Eskom het aangekondig fase 3-beurtkrag is ingestel van 2-uur vanmiddag tot 5-uur Maandagoggend weens die verlies van twee-duisend-700 MegaWatt oor 14-uur. Dit volg op die onverwagte uitskakeling van Koeberg se eenheid-2 in Kaapstad, wat die hele kernkragstasie vanlyn gelaat het. Twee eenhede van Kusile in Mpumalanga word ook geraak deur steenkoolvoorsienings-probleme. Eskom hoop om teen Maandag ses-duisend-200-MegaWatt terug te plaas en die naweek noodreserwes aan te vul.
# President Cyril Ramaphosa sê die Onteieningswet moet gebruik word om gekaapte geboue in Johannesburg se middestad terug te eis. Hy het tydens die tweede vergadering met die uitvoerende gesag in Gauteng die noodsaaklikheid beklemtoon om die stad se infrastruktuur tot sy eertydse glorie te herstel. Ramaphosa sê dis nou tyd vir ‘n ommekeer en Johannesburg moet nuwe lewe gegee word tot voordeel van sy inwoners:
Die Presidensie het intussen bevestig die Oekraïnse president, Volodimir Zelensky, besoek Suid-Afrika op 10 April. Die aankondiging volg ná ‘n gespanne ontmoeting tussen Zelensky en die Amerikaanse president, Donald Trump, wat ‘n tydelike opskorting van Amerikaanse militêre hulp aan Oekraïne ter waarde van meer as ‘n miljard-dollar veroorsaak het. Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, sê die besoek is deel van Cyril Ramaphosa se vredespogings met Zelensky en die Russiese president, Vladimir Putin.
Rusland het intussen vroeg vandag ‘n reuse-hommeltuig- en missielaanval op Oekraïene se energie-aanlegte uitgevoer, enkele dae nadat Zelensky en Europese bondgenote voorgestel het Moskou en Kiëf moet die aanvalle op kritieke infrastruktuur stopsit. Die Oekraïense Lugmag sê Rusland het minstens 58 missiele en byna 200 hommeltuie afgevuur, wat energie-aanlegte vanaf Kharkiv in die ooste tot Ternopil in die weste beskadig het. Beeldmateriaal wat die nooddienste vrygestel het, wys hoe brandbestryders in die Kharkiv-streek die vlamme bestry in strate vol puin.
# Tennis: Die Vrouetennisvereniging gaan tot 12-maande betaalde kraamverlof vir spelers instel. Die gesamentlike projek tussen die WTA en Saoedi-Arabië se Openbare Beleggingsfonds sal minstens 320 spelers bevoordeel. Die kraam-befondsingsprogram sal spelers ook toegang gee tot toelaes vir vrugbaarheidsbehandeling, insluitend die bevriesing van eiers en in vitro-bevrugting. Die tweemalige Grand Slam-kampioen Victoria Azarenka van Belarus, wat in 2016 geboorte geskenk het aan haar seun, het aan CNN gesê hierdie is ‘n belangrike mylpaal vir spelers:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-241-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-920-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….