Nuus 15:00
BULLETIN 6 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa vra dringende optrede om misdaad en wetteloosheid in Gauteng aan te pak
# Die DA in Gauteng lig die Openbare Beskermer in oor ‘n betaling van 1,8-miljard-rand aan ‘n ANC-gekoppelde instelling
# En rugby: Rassie sê Kolisi sal Springbokkaptein bly solank sy spelpeil goed genoeg is
# President Cyril Ramaphosa vra dringende optrede om misdaad en wetteloosheid in Gauteng aan te pak. Hy het op ‘n vergadering tussen die nasionale uitvoerende gesag en die provinsiale uitvoerende raad in Johannesburg gewaarsku vertragings met die oplossing van hierdie kwessies kan vordering ondermyn. Ramaphosa het werkloosheid en armoede as die provinsie se grootste uitdagings geïdentifiseer en beklemtoon die verbintenisse wat aangegaan is, moet tot tasbare uitslae lei wat mense regstreeks bevoordeel:
# Die DA in Gauteng het die Openbare Beskermer gevra vir ‘n dringende ondersoek na die provinsiale Onderwysdepartement se verdagte betaling van meer as 1,8-miljard-rand aan die ANC-verwante Matthew Goniwe School of Leadership and Governance. Michael Waters van die DA sê die betalings is tussen 2019 en verlede jaar gedoen, insluitend tydens die Covid-19-pandemie toe opvoedkundige instellings gesluit was:
# Egoli Gas het gastoevoer na vier Gautengse hospitale hervat ná die provinsiale Gesondheidsdepartement ingestem het om sy skuld van 14-miljoen-rand te betaal. Die hospitale wat geraak is, is Rahima Moosa, Charlotte Maxeke, Helen Joseph en Edenvale. Die inrigtings was ‘n week lank sonder gas wat veroorsaak het dat hulle sonder warm water was en die voorbereiding van maaltye geraak is. Egoli Gas en die departement het ooreengekom op ‘n gestruktureerde betalingsplan en langtermynreëlings om ontwrigtings in die toekoms te verhoed en voortgesette gasverskaffing te verseker.
# Die Nasionale Finansiële Ombudskema sê hy het sedert sy totstandkoming in Maart verlede jaar 40-duisend-859 sake hanteer en 416-miljoen-rand vir verbruikers herwin. Die skema is die gevolg van die samesmelting van vier ombud-agentskappe wat ‘n enkelplatform bied vir die oplossing van klagtes en geskille in Suid-Afrika se finansiële dienstesektor. Die hoof van die NFO, Reana Steyn, sê hulle het gehelp om ‘n veiligheidsnet te verskaf aan diegene wat deur wanadminstrasie, geskille of finansiële verlies geraak word:
# Rugby: Die Springbokke se hoofafrigter, Rassie Erasmus, sê Siya Kolisi sal kaptein van die span bly solank hy goed genoeg is om die eerste keuse in sy posisie te bly. Hy sê hy besef Kolisi sal 36 wees wanneer die volgende Wêreldbekertoernooi in 2027 plaasvind. Erasmus sê daar is ander spelers soos Eben Etzebeth, Salmaan Moerat, Bongi Ngobeni and Pieter-Steph du Toit wat almal alreeds die Bok-span aangevoer het, maar hy sal vir eers volhard met Kolisi solank hy fiks genoeg en goed genoeg is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-78-sent teen die euro en 23-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-428-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-903-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….