Nuus 15:00
BULLETIN 5 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC se nuwe leierskap in KZN beloof om korrupsie en faksievorming te beveg
# COPE sê Suid-Afrika se morele stem is vinnig besig om te vervaag
# En gholf: Burgemeester Morero loof die borge van die Johannesburgse Ope
# Die ANC se provinsiale taakspan in KwaZulu-Natal het onderneem om korrupsie en interne verdeeldheid te beveg as deel van sy hernuwingspogings. Die nuutaangestelde leierskap het verklaar lede sal geensins toegelaat word om hul posisies te misbruik vir persoonlike gewin nie. Die taakspan het ook onderneem om partystrukture te herbou, openbare vertroue te herstel en lede te verenig. Sameroeper Jeff Radebe het op ‘n nuuskonferensie gesê hulle fokus op voorbereiding vir volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing en die verbetering van dienslewering:
# Rise Mzansi sê die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het ingestem dat dobbeladvertensies uit skole gehou moet word. Dit volg ná toenemende kommer oor die groeiende dobbelkrisis in Suid-Afrika, met borge wat voordeel trek uit befondsingsgapings in arm gemeenskappe deur dobbellogo’s op skoolbanke te plaas. Die party ondersteun Gwarube se verbintenis om ‘n beleid oor korporatiewe borgskappe in skole in te stel. Makashule Gana van Rise Mzansi sê burgers het verlede jaar meer as een-duisend-miljard-rand aan dobbel bestee.
# COPE sê Suid-Afrika se morele stem is vinnig besig om te vervaag, plaaslik en internasionaal. Die party sê die Amerikaanse president, Donald Trump, is ‘n nabootser-diktator wat dreigemente na Suid-Afrika slinger. Pake Dikgetsi van COPE sê karakters soos die tegnologie-miljardêr Elon Musk en die politieke kommentator Tucker Carlson kan skadelike leuens oor die land versprei sonder enige besware van pro-Suid-Afrikaanse drukgroepe in die VSA:
China het intussen ‘n ambisieuse groeiteiken van sowat vyf-persent gestel en voorgeneem dat binnelandse vraag die vernaamste ekonomiese doelwit sal wees terwyl die verergerende handelsoorlog met Amerika uitvoere beïnvloed. Beijing het ook ‘n ongewone tariefverhoging in fiskale befondsing aangekondig, wat hulle begrotingstekort vanjaar na vier-persent sal verhoog terwyl hulle sukkel met wankelrige werkskepping vir jong mense, knaend lae verbruikersvraag en ‘n aanhoudende skuldkrisis in die eiendomsektor. Omtrent 12-miljoen nuwe werksgeleenthede sal met hierdie plan geskep word terwyl Beijing streef na ‘n inflasiekoers van twee-persent vir vanjaar.
# Gholf: Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, het die Johannesburgse Ope se borge geloof omdat hulle die metro se internasionale aansien bevorder. Die toernooi, wat môre begin, sluit die tweede deel van die Europese Toerseisoen af. Meer as 100 spelers neem deel, gelei deur verlede week se Suid-Afrikaanse Ope-kampioen, Dylan Naidoo. Morero sê die toernooi het sedert 2007 van krag tot krag gegaan:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-885-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-914-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 69-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….