Nuus 15:00
BULLETIN 25 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Padvragvereniging sê spooropknapping kan logistieke koste ingrypend sny en duisende werksgeleenthede skep
# Gwarube beklemtoon voorrang aan grondslag van leerwerk op die G20-indaba
# En rugby: Die Bokke skuif op tot tweede plek op die wêreldranglys
# Die Padvragvereniging sê die sukses van die regering se spoorhervorming hang af van bestendige regulasies, verbeterde infrastruktuur en goeie samewerking tussen pad-en spooroperateurs. Dit volg na die minister van Vervoer, Barbara Creecy, se aankondiging dat elf spoorgleuwe aan privaat spoorvragmaatskappye toegeken is om jaarlikse vragvolumes te verhoog van 160- tot 250-ton. Die vereniging se uitvoerende hoof, Gavin Kelly, sê die spoorvragopknapping kan logistieke koste verminder en duisende werksgeleenthede skep.
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê die G20 Nasionale Onderwys-indaba in Kaapstad gee voorrang aan die versterking van die grondslag van leerwerk en om langtermyn-uitdagings in die sektor aan te pak. Gwarube beklemtoon indien die basiese beginsels ingestel is, sal die beheptheid met matriekuitslae, wiskunde- en wetenskapdeelname verminder. Sy vra bewysgebaseerde hervormings, finansiële herstelplanne vir sukkelende provinsies en wêreldwye voorspraak om gelyke toegang tot gehalte-onderwys vir alle kinders te verseker:
# Families van slagoffers en oorlewendes van menseregte-skendings uit die apartheids-era het tot vanmiddag vier-uur om te registreer vir vooraf-raadpleging met die regterlike kommissie van ondersoek. President Cyril Ramaphosa het die kommissie in Mei gevestig om die dwarsboming van Waarheid- en Versoeningskommissie-sake te ondersoek. Die kommissie sal vasstel of beamptes die polisie of aanklaers beïnvloed het om sake te vertraag, moontlike samespanning, en of grondwetlike eise geregverdig is. Die kommissie moet sy werk binne ses maande afhandel en daarna binne 60 dae verslag doen.
# Rugby: Suid-Afrika het Ierland verbygesteek en is nou tweede op die wêreldranglys ná hul oorwinning van 30-22 oor Australië in Kaapstad in die tweede ronde van die Rugbykampioenskap. Nieu-Seeland is steeds eerste ondanks hul nederlaag van 29-23 teen Argentinië in Buenos Aires. Dit was die Pumas se eerste toets-sege oor die All Blacks op hul tuisveld. Nieu-Seeland moes met minstens 15 punte verloor het om die Bokke die eerste plek terug te besorg. Frankryk is vierde en Engeland vyfde.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-54-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-en-36-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-368-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-66-sent per vat.
# En laastens, die Forum for South Africa vra die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, om dringend beleid in te stel wat sal seker maak akteurs en aktrises ontvang voor en na hul dood tantième vir hul werk. Die minister is gekritiseer oor sy teenkanting teen die Wysigingswetsontwerp op Kopiereg wat tantième-regte vir hierdie kunstenaars sal verseker. Die forum se leier, Tebogo Mashilompane, sê musikante ontvang selfs ná hul dood tantième, maar akteurs het nie dieselfde finansiële sekerheid nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….