Nuus 15:00
BULLETIN 4 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet finaliseer sy begrotingsinsette voor die indiening op 12 Maart
# AfriForum eis optrede om Suid-Afrika binne AGOA te hou
# En ‘n Australiër sterf na hy 2,4-miljoen babas se lewens gered het met bloedoortappings
# Die kabinet het sy insette vir die 2025/’26-begroting afgehandel wat die minister van Finansies, Enoch Godongwana, volgende Woensdag ter tafel sal lê. ‘n Spesiale vergadering het gister die befondsings-moontlikhede gedebatteer na die geskiedkundige vertraging van die begrotingstoespraak oor ‘n BTW-verhogingskwessie. Volgens Bloomberg sal Godongwana nou fiskale beperkings, ekonomiese groei en die beskerming van lae-inkomste huishoudings moet balanseer. Berigte dui op moontlike belastingverhogings, uitgawe-besnoeiings en pensioenfondsaanpassings. Die finale begroting gaan probeer om skuld te stabiliseer en noodsaaklike dienste te steun.
# AfriForum sê Suid-Afrika moet aandag skenk aan die beweerde menseregteskendings teen Afrikaners om te verhoed dat die land sy voordele ingevolge die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika verloor. Die menseregtegroep is tans onder skoot omdat hulle met die Amerikaanse president, Donald Trump, se administrasie vergader het, wat president Cyril Ramaphosa as verdelend bestempel. Uitvoerende hoof Kallie Kriel hou vol AfriForum sal nie skuld aanvaar indien Suid-Afrika sy voordele verloor nie, en AGOA-sanksies behoort nie gewone burgers te teiken nie:
# Privaat ondernemings kritiseer die Suid-Afrikaanse Poskantoor dat hy nie die vermoë het om aan te pas nie. Dit volg nadat die Departement van Kommunikasie die Tesourie se ondersteuning versoek het vir ‘n taakspan om vennote te vind vir ‘n openbare-privaat vennootskap. Kritici glo die Poskantoor se toekoms hang af van sy vermoë om by die digitale wêreld aan te pas. ‘n Onafhanklike ontleder, Khaya Sithole, het aan SABC News gesê die Poskantoor het nie daarin geslaag om homself te vernuwe nie:
# Rugby: Die verdedigende kampioen, Ierland, hoop hulle kaptein, Caelan Doris, sal fiks wees om hulle in Saterdag se Sesnasies-kragmeting met Frankryk in Dublin aan te voer. Die bestuur sê hy herstel goed van sy kniebesering. Die onoorwonne Ierse span is boaan die punteleer met Frankryk tweede na hulle Wallis en Italië geklop, maar teen Engeland verloor het. Na die naweek is daar slegs een ronde oor met ‘n ongekende derde agtereenvolgende titel vir die Iere op die spel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-947-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-917-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-73-sent per vat.
# En ten slotte: Een van die wêreld se gereeldste bloedskenkers het gesterf. Die 88-jarige John Harrison se plasma het die lewens van meer as twee-miljoen babas gered. Hy het bekendgestaan as die man met die goue arm. Harrison se bloed het ‘n seldsame teenliggaam, Anti-D, bevat wat gebruik is om medikasie te vervaardig vir swanger vroue wie se bloed ‘n bedreiging vir hul ongebore babas inhou. Die bloeddiens van die Australiese Rooi Kruis sê hy het begin om sy bloedplasma te skenk toe hy 18 was en het dit tot op 81 elke twee weke gedoen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….