Nuus 15:00
BULLETIN 3 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA dring aan op parlementêre keuring van kabinetsaanstellings
# Minister Buthelezi bevestig Suid-Afrika se verbintenis tot wêreldwye pogings teen korupsie
# En krieket: Nieu-Seeland is nie te bekommerd oor sy nederlaag teen Indië in die groepsfase van die Kampioenetrofee nie
# ActionSA vra die parlementêre keuring van kabinetsaanstellings om meer aanspreeklikheid en deursigtigheid te verseker. Die party stel ‘n grondwetlike wysiging voor waarin van die Parlement vereis word om alle kabinetsaanstellings wat die president gedoen het binne ‘n vasgestelde tydsraamwerk goed te keur. Athol Trollip van ActionSA glo hierdie stap sal help om korrupsie te bekamp en die aanstelling van kandidate te voorkom wat nie geskik is vir sleutel- regeringsposisies nie:
# Die minister van die Staatsdiens en Administrasie, Inkosi Buthelezi, sê die vergadering van die G20 se teenkorrupsiewerkgroep wil korrupsie bekamp wat ontwikkeling en openbare vertroue bedreig. Buthelezi het op die beraad in Somerset-Wes, Kaapstad, weer Suid-Afrika se verbintenis tot die bekamping van korrupsie bevestig. Hy noem aanspreeklikheid en deursigtigheid, met die klem op globale samewerking in die bekamping van korrupsie en tot die bevordering van etiese leierskap. Buthelezi het G20-lande aangemoedig om hul pogings te versterk en veerkragtige bestuurstelsels te bou:
# Die DA in Gauteng het kommer uitgespreek oor die versuim van al 37 staatshospitale om aan beroepsgesondheids- en veiligheidstandaarde te voldoen, met brandrisiko’s wat die grootste bedreiging is. Volgens ‘n verslag van die provinsiale Gesondheidsdepartement het 16 hospitale met minder as 75-persent voldoen en beskik nie oor noodsaaklike brandvoorkomingsmaatreëls nie. Die Charlotte Maxeke-hospitaal moes vyf-jaar gelede ‘n groot brand trotseer en voldoen tans teen slegs 72-persent. Die DA dring aan op beter instandhouding en korrupsievrye aanstellings om hospitaalveiligheid te verbeter.
# Krieket: Nieu-Seeland se snelbouler, Matt Henry, sê gister se Kampioenetrofee-nederlaag teen Indië in Doebai het nie hulle selfvertroue enige skade berokken voor Woensdag se halfeindstryd teen Suid-Afrika in Lahore, Pakistan, nie. Hy het vyf paaltjies geneem om Indië tot 249 vir nege te beperk, maar die Swartpette is toe vir slegs 205 uitgeboul – hulle eerste nederlaag van die toernooi. Henry sê hulle is nie te bekommerd daaroor nie, want hulle speel tans deurgaans goeie krieket. Indië speel môre teen Australië in die eerste halfeindstryd in Doebai.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-65-sent teen die dollar, 19-rand-49-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-576-dollar-89-sent. Die prys van goud is twee-duisend-872-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-81-sent per vat.
En laastens ……….
# Captain America: Brave New World, met Harrison Ford, Anthony Mackie en Shira Haas in die hoofrolle, het die derde agtereenvolgende naweek die beste gedoen by die Noord-Amerikaanse loket. Die nuwe vrystelling Last Breath, oor diepseeduikers wat jaag om ʼn spanmaat te red, het sy debuut op nommer twee gemaak terwyl Neon Studio se komedie-riller, The Monkey derde is. Paddington in Peru en Dog Man voltooi die topvyf. Mufasa: The Lion King is steeds onder die top-tien, in die sesde plek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….