Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Macpherson verseker beleggingsbelangstelling ná ‘n besoek aan die Midde-Ooste
# Sokker: La Liga se president beskuldig Manchester City van finansiële onreëlmatighede
# En die Vatikaan sê pous Franciskus se gesondheid verbeter
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het ‘n weeklange besoek aan die Midde-Ooste afgesluit waar hy beleggingsbelangstelling in Suid-Afrika se infrastruktuursektor wou verseker. Hy het die besoek se rol uitgelig om 100-miljard-rand in privaat sektor-belegging te lok. Macpherson beoog nou om samesprekings te omskep in tasbare uitslae wat bande sal versterk en infrastruktuur-ontwikkeling sal bespoedig om ekonomiese groei en werkskepping te bevorder:
Die Onteieningswet sal intussen na verwagting geleenthede skep vir die jeug om aan die ekonomie deel te neem. Die minister vir Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede, Sindisiwe Chikunga, het die regering se plan aangekondig om werkloosheid onder die jeug oor vyf jaar aan te pak. Sy het tydens die eerste Bemagtig die Jeug-indaba in Johannesburg gesê die regering sal sy presidentskap van die G20 gebruik om jongmense vir toekomstige werksgeleenthede voor te berei:
# Die MK het sy voormalige leier in Mpumalanga, Mary Phadi, se lidmaatskap beëindig. Sy het glo op die rooi tapyt van die provinsiale rede die brief gekry wat haar uitskop. Die party noem wangedrag as die rede, wat insluit dat sy die party voor die hof gedaag het sonder om interne kanale uit te put. MK se sameroeper in die provinsie, Busisiwe Mkhwebane, sê Phadi mag haarself nie meer as ‘n lid van die party identifiseer nie:
# Sokker: La Liga se president, Javier Tebas, het onthul die Spaanse liga het in 2023 ‘n strafregtelike klagte teen Manchester City by die Europese Kommissie ingedien, en die Premierliga-klub van finansiële onreëlmatighede beskuldig. Hy beweer City het buitelandse subsidies van die Verenigde Arabiese Emirate ontvang. Dit laat die klub glo toe om sy posisie as mededinger te bevorder, wat aansienlike verwringing op verskeie nasionale en Europese Unie-markte veroorsaak. Tebas sê die saak duur voort en is tans in ʼn ondersoekfase. City ontken die bewerings.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-330-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-861-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-59-sent per vat.
# En ten slotte: Die Vatikaan sê die 88-jarige pous Franciskus het ‘n rustige nag in die hospitaal deurgebring, ‘n dag nadat daar ‘n tweede agtereenvolgende dag ʼn verbetering in sy toestand was. Sy gesondheid het agteruitgegaan nadat hy op 14 Februarie met asemhalingsprobleme in die Gemelli-hospitaal in Rome opgeneem is. Dit het kommer laat ontstaan omdat dit tot dubbele longontsteking vererger het. Die Argentyn, wat sedert 2013 hoof van die Rooms-Katolieke Kerk is, het verlede naweek asemnood ontwikkel, maar die Vatikaan het dié week stelselmatige verbeterings in sy toestand aangekondig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….