Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet loof Eskom se pogings om kragtoevoer bestendig te kry te midde van beurtkrag
# Die Oscar-bekroonde akteur Gene Hackman en sy vrou word dood gevind in hulle huis
# En, krieket: Pat Cummins begin oefen vir die IPL na hy die Kampioenetrofee misgeloop het weens ‘n beseerde enkel
# Die kabinet verwelkom Eskom se herstelpogings nadat onverwagte foute by verskeie kragstasies tot beurtkrag gelei het. Die regering beklemtoon beurtkrag was die afgelope jaar 323 dae opgeskort, ‘n reuse-verbetering vanaf 32 dae die vorige jaar. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het op ‘n nuuskonferensie gesê bykomende kragvoorraad word binnekort verwag, met Kusile se eenheid ses en Medupi se eenheid vier wat volgende maand aanlyn sal wees:
# Build One South Africa waarsku oor landwye betogings indien die minister van Justisie, Mmamoloko Kubayi, versuim om die Nasionale Register vir Seksoortreders vry te stel. Na veldtogte die afgelope twee jaar en bykans 20-duisend handtekeninge, eis BOSA deursigtigheid om gemeenskappe teen seksmisdadigers te beskerm. Waarnemende woordvoerder, Roger Solomons, beklemtoon die noodsaaklikheid van optrede teen geslagsgeweld en versoek Suid-Afrikaners om die saak te ondersteun:
# Die Hollywood-akteur Gene Hackman, sy vrou, Betsy Arakawa, en die gesin se hond is dood gevind in hul huis in Santa Fe, Nieu-Mexiko. Die polisie vermoed nie gemene spel nie, maar die oorsaak van dood is nog nie vasgestel nie. Die 95-jarige oud-soldaat het in meer as 80 rolprente verskyn en in 1971 ‘n Oscar gewen vir sy hoofrol in The French Connection. Hy het na sy uittrede saam met Daniel Lenihan avontuurromans begin skryf. Die 63-jarige Arakawa, ‘n klassieke pianis, is in 1991 met Hackman getroud.
# Krieket: Australië se kaptein, Pat Cummins, het weer begin boul terwyl hy voorberei vir volgende maand se Indiese Premierliga, sowel as die eindstryd van die toetskampioenskap teen Suid-Afrika op Lord’s in Londen in Junie. Hy moes onttrek aan die Kampioeneliga weens ‘n enkelbesering. Cummins sê sy enkel is baie beter na ‘n goeie rustyd en hy behoort reg te wees vir die IPL, wat op 22 Maart begin. Hy sal Sunrisers Hyderabad aanvoer in die gewilde kompetisie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-607-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-893-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-78-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê hy is nog ‘n treetjie nader aan volle herstel nadat ‘n kuberaanval verlede maand sy inligtings- en kommunikasietegnologiestelsels lamgelê het. Die aanval het wydverspreide onsekerheid veroorsaak oor die diens se vermoë om kritieke weer- en klimaatsdienste te verskaf. Die woordvoerder, Oupa Segalwe, sê die diens kan ná die herstelwerk weer alle weerprodukte digitaal stuur:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….