Nuus 15:00
BULLETIN 25 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa vra voortgesette samewerking tussen tradisionele leiers en die mynbedryf
# BOSA oorweeg regstappe oor die Lotery-tender van 180-miljard-rand
# En rugby: Die Bok-stut Trevor Nyakane kan die res van die seisoen misloop weens ‘n geskeurde Achilles-sening
# President Cyril Ramaphosa het tradisionele leiers aangemoedig om hul betrokkenheid by die mynbedryf te versterk om te verseker landelike gemeenskappe trek ook voordeel uit natuurlike hulpbronne. Hy het tydens die opening van die Nasionale Huis van Tradisionele en Khoi-San-leiers erkenning gegee aan die kommer oor onvoldoende mynbouvoordele. Ramaphosa moedig deurlopende dialoog met die Ministerie van Minerale Hulpbronne aan om meer geleenthede vir gemeenskappe te skep:
# BOSA sê hy oorweeg regstappe nadat die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, aangekondig het die huidige nasionale loterylisensie sal met nog ‘n jaar verleng word. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, sê die verlenging, ter waarde van byna 200-miljard-rand oor vyf jaar, is die enkele grootste tender in Suid-Afrika, en wek ernstige kommer oor wettigheid, deursigtigheid en regverdige mededinging. Hy sê BOSA bespreek tans die saak met regskenners om uit te vind of die verlenging regmatig is:
# Begunstigdes van maatskaplike toelaes by Postbank het in tien maande met 20-persent afgeneem en het in Januarie tot 2,97 miljoen gedaal. Banke soos Capitec, Grindrod en Standard Bank het intussen ontvangers bygekry. Postbank kan nie byhou om daagliks 100-duisend nuwe swart Sassa-kaarte teen die sperdatum van 20 Maart uit te reik nie. News24 berig TymeBank stel voor Sassa moet lyste met ID-nommers aan banke verskaf om betalings te vergemaklik. Vertragings veroorsaak lang toue en daar is oproepe om te verseker ontvangers ontvang hul toelaes sonder ontwrigting.
# Die grootste bank in Singapoer verwag om oor die volgende drie jaar vier-duisend poste te besnoei namate kunsmatige intelligensie meer pligte oorneem wat tans deur mense verrig word. ‘n Woordvoerder van DBS Bank het aan BBC gesê die vermindering in die arbeidsmag sal natuurlik plaasvind namate tydelike en kontrakposte tot ‘n einde kom. Permanente personeel sal na verwagting nie deur die besnoeiings geraak word nie. Die president van die Bank van Engeland, Andrew Bailey, het verlede jaar aan die BBC gesê hoewel daar risiko’s verbonde is aan KI, is daar ook groot potensiaal.
# Rugby: Die Springbok-stut Trevor Nyakane kan die res van die seisoen misloop nadat hy sy Achilles-sening geskeur het in ‘n wedstryd vir die Haaie. Hy het sy enkel verstuit tydens die Verenigde Rugbykampioenskaps-kragmeting met die Bulle die vorige naweek en moes ‘n operasie ondergaan. Die 35-jarige het op sosiale media gesê sy dokters is baie tevrede met die prosedure. Hy sê hy moet net positief bly terwyl hy herstel. Nyakane sê hy hoop steeds om nog drie jaar te kan speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-883-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-938-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….