Nuus 15:00
BULLETIN 21 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa nooi sy Oekraïnse ampsgenoot na Suid-Afrika vir ‘n staatsbesoek
# Minister Senzo Mchunu waarsku polisiemoorde sal nie geduld word nie
# En boks: Minister Gayton McKenzie onthul groot planne vir die sport in Suid-Afrika
# President Cyril Ramaphosa het die president van Oekraïne, Volodymyr Zelensky, genooi vir ‘n staatsbesoek ná globale diplomatieke vergaderings. Hul bespreking volg te midde van spanning met die Amerikaanse president, Donald Trump, wat onlangs na Zelensky verwys het as ‘n diktator. Ramaphosa beklemtoon die noodsaaklikheid van ‘n inklusiewe vredesproses in Oekraïne. Zelensky het Suid-Afrika bedank vir sy ondersteuning van Oekraïne se soewereiniteit en sê Suid-Afrika se stem is belangrik. Die voorgestelde besoek het ten doel om diplomatieke bande te versterk en ‘n pad na regverdige en blywende vrede te bespreek.
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, waarsku niemand is onaantasbaar nie, en moorde op polisielede sal nie geduld word nie. Hy sê wetstoepassers sal beslissend optrede teen misdadigers wat polisielede teiken. Mchunu het die jongste misdaadstatistiek bekend gemaak vir die tydperk 1 Oktober tot 31 Desember verlede jaar. Hy sê sewe gewapende aanvallers is gister in Butterworth in die Oos-Kaap dood tydens ‘n skietgeveg met die polisie, wat die regering se vasberadenheid bewys om misdaad te bestry en polisielede te beskerm:
# Inwoners van Johannesburg is versoek om doop- en reinigingsrituele in riviere te vermy weens die voortdurende swaar reën. Dit het sterk strome veroorsaak en het in die verlede tot sterftes in die Jukskeirivier gelei. Die woordvoerder van die Johannesburgse Noodbestuursdienste, Robert Mulaudzi, waarsku die riviere is vol en onveilig. Nooddiens-spanne bly op ‘n hoë gereedheidsgrondslag en monitor al sewe streke in die stad vir noodgevalle te midde van die swaar reënbuie. Inwoners word aangeraai om versigtig te wees, veral naby waterbronne.
# Arabiese leiers vergader in Saoedi-Arabië om ‘n herstelplan vir Gasa saam te stel, as teenvoeter vir president Donald Trump se voorstel vir Amerikaanse beheer en die uitsetting van die inwoners. Arabiese state is verenig in hul teenkanting van Trump se plan, maar daar is steeds onenigheid oor wie die oorloggeteisterde Palestynse gebied moet regeer en hoe die heropbou gefinansier moet word. Trump se voorstel dat die VSA die Gaza-strook oorneem en sy meer as twee-miljoen inwoners in Egipte en Jordanië hervestig word, het tot wêreldwye verontwaardiging gelei.
# Boks: Die minister van Sport, Gayton McKenzie, het tydens ‘n byeenkoms in Oos-Londen groot hervormings aangekondig om die sport in Suid-Afrika te verbeter. Sleutelplanne sluit in ‘n toegewyde TV-kanaal, verbeterde finansiële deursigtigheid en regeringsondersteuning vir promotors. McKenzie het onderneem om die Orient-teater te heropen, te verseker dat agterstallige kampioenskapsgordels toegeken word, vroueboks te verbeter, en gelyke betaling te verseker. Hy sê tydens die volgende boks-simposium sal daar net gekyk word na boksers se griewe en maniere om die sport te verbeter.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-611-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-932-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….