Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en Gauteng lei met toenames in indiensneming
# Amerika en Rusland begin met gesprekke wat daarop gemik is om die Oekraïnse oorlog te beëindig
# En sokker: Liverpool se kaptein sê sy span kan die toenemende druk van die titelwedloop hanteer
# Statistieke Suid-Afrika se jongste kwartaallikse arbeidsmagopname toon die grootste toenames in indiensneming in die vierde kwartaal van 2024 is in drie provinsies aangeteken. Die Wes-Kaap het ‘n toename van 62-duisend werksgeleenthede gehad, gevolg deur KwaZulu-Natal met ‘n toename van 52-duisend, en Gauteng met 45-duisend. Die Statistikus-generaal, Risenga Maluleke, sê ander provinsies soos die Vrystaat, Noordwes en Limpopo het egter afnames aangeteken:
# Statistieke Suid-Afrika sal Januarie se inflasiesyfer volgende Woensdag bekendmaak en nie môre soos beplan nie. Die Januarie-verbruikersprysindeks is die eerste een wat bywerkings van die kosmandjie en gewig sal insluit wat op 28 Januarie aangekondig is. Die vertraging is as gevolg van die behoefte aan bykomende ondersoeke en bevestiging van die data en samestellingstelsels om te verseker alle bywerkings word korrek in werking gestel. Hierdie prosesse het langer geneem as wat verwag is.
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie versoek die publiek om op te hou om video’s van die aanvalle by die Zanzou-nagklub in Pretoria te deel. Die kommissie se provinsiale bestuurder, Zamantungwa Mbeki, het aan SABC News gesê die grafiese beeldmateriaal toon duidelike menseregteskendings. Mbeki waarsku indien hierdie video’s gedeel word, kan dit verdere viktimisering veroorsaak. Sy beklemtoon hoe belangrik dit is om die waardigheid en regte te beskerm van diegene wat geraak word:
# Samesprekings tussen Amerika en Rusland oor die beëindiging van die oorlog in Oekraïne het in Saoedi-Arabië begin – die eerste persoonlike ontmoeting sedert Moskou se inval drie jaar gelede. Die Russiese minister van Buitelandse Sake, Sergei Lavrov, en sy Amerikaanse eweknie, Marco Rubio, is teenwoordig, maar Oekraïne en Europa is afwesig. Volgens Amerika is die samesprekings ‘n eerste stap om te sien of Rusland ernstig is om die oorlog te beëindig, terwyl Rusland hoop om betrekkinge met Amerika te normaliseer. President Volodimir Zelensky sê Oekraïne sal nie ooreenkomste erken wat sonder hulle aangegaan is nie.
# Sokker: Liverpool se kaptein, Virgil van Dyk, glo die Premierliga-voorloper kan die toenemende druk van die titelwedloop hanteer. Arne Slot se span is nou sewe punte voor Arsenal nadat hulle gespook het om ‘n sukkelende Wolves 2-1 te klop. Hulle het Woensdag in bykomende tyd ʼn gelykmakende doel teen Everton afgestaan en daar was ʼn tasbare gevoel van afwagting op Anfield terwyl Liverpool moes sweet om hulle voorsprong teen Wolves te verdedig. Van Dijk verwag nog drama terwyl Liverpool alles uithaal om die rekord van 20 Engelse titels te ewenaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-637-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-911-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….